|

AfriForum versoek LUR om in te gryp by sukkelende JB Marks-munisipaliteit oor buitensporige salarisverhogings

Klankgreep: Jaco Grobbelaar (Afrikaans)
Klankgreep: Jaco Grobbelaar (Engels)

’n 50%-salarisverhoging vir die munisipale bestuurder onder wie se leiding dié munisipaliteit in Noordwes in die afgelope boekjaar bykans R79 miljoen se vrugtelose en vermorste uitgawes aangegaan is, is volgens AfriForum te dik vir ’n daler. Daarom dring die burgerregteorganisasie nou daarop aan dat Oageng Gaoage Molapisi, Noordwes se LUR vir Samewerkende Regering, Menslike Nedersettings en Tradisionele Sake, ingryp en ondersoek instel na dié en ander buitensporige salarisverhogings wat vir senior bestuur van die sukkelende JB Marks Plaaslike Munisipaliteit goedgekeur is.

AfriForum het sy versoek Vrydag (3 Julie) in ’n formele skrywe aan Molapisi gerig. Afskrifte daarvan is ook aan Kenetswe Mosenogi, Noordwes se LUR vir die Tesourie, en die ouditeur-generaal gestuur.

Volgens Jaco Grobbelaar, AfriForum se streekshoof vir die sentraalstreek, dring AfriForum daarop aan dat Molapisi dringend ondersoek instel na die wettigheid en bekostigbaarheid van die goedgekeurde salarisverhogings. Hy moet ook bepaal of die besluit voldoen aan die bepalings van die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur (MFMA) en ander toepaslike wetgewing. AfriForum eis verder ook dat die provinsiale regering moet vasstel of die munisipaliteit, gegewe sy ernstige finansiële verknorsing, reuseskuld aan Eskom en ’n voortslepende diensleweringskrisis hierdie verhogings kan bekostig.

“As daar enige onreëlmatighede of finansiële wangedrag is, moet die provinsie sy grondwetlike toesighoudende bevoegdhede gebruik om in te gryp en belastingbetalers teen verdere finansiële wanbestuur te beskerm,” verduidelik Grobbelaar.

Die munisipaliteit se begroting vir die 2026/2027-boekjaar is op 23 Junie goedgekeur. As deel hiervan is ’n 50%-salarisverhoging goedgekeur vir die munisipale bestuurder, Kgomotso Khumbe. Dit sal Khumbe se jaarlikse salarispakket vanaf die huidige nagenoeg R1,4 miljoen verhoog tot sowat R2,2 miljoen. Benewens Khumbe se reuseverhoging, is verhogings van sowat 37% ook aan ander senior bestuurslede toegestaan wat boonop terugwerkend tot 2024 ingestel gaan word.

AfriForum kritiseer dié buitensporige verhogings. “Die munisipaliteit verkeer tans onder geweldige finansiële druk en het ’n aansienlike skuldlas teenoor Eskom. Uit die sowat R78,9 miljoen vrugtelose en vermorste uitgawes is ongeveer R69,3 miljoen daarvan rente op agterstallige Eskom-skuld. Boonop kom hierdie verhogings terwyl paaie, water- en elektrisiteitsinfrastruktuur in die munisipaliteit verval en dienslewering op ’n laagtepunt is,” kap Grobbelaar.

Ventersdorp word volgens AfriForum veral swaar getref deur munisipale verval. Hier moet inwoners telkens dae lank sonder elektrisiteit klaarkom weens die verval van die elektrisiteitsnetwerk, terwyl ander infrastruktuur – soos paaie – ook nie voldoende onderhou word nie. Intussen word daar steeds van belastingbetalers verwag om vir dienste te betaal wat nie aan hulle gelewer word nie.

“Dit is ondenkbaar dat dieselfde bestuur onder wie hierdie munisipaliteit finansieel en administratief ontspoor het, nou met salarisverhogings van tot 50% beloon word. Wanneer ’n munisipaliteit nie eens sy Eskom-rekening kan betaal nie, infrastruktuur laat verval en gemeenskappe in die steek laat, behoort die fokus op aanspreeklikheid en herstel te wees en nie op die verryking van ontplooide kaders nie,” verduidelik Grobbelaar.

Volgens Grobbelaar speel politieke lojaliteite duidelik ’n veel groter rol in die munisipaliteit as bevoegdheid. “Kaderontplooiing vernietig munisipaliteite en gewone inwoners betaal die prys daarvoor. AfriForum sal nie stilbly terwyl openbare geld gebruik word om mislukkings te beloon nie,” sê Grobbelaar.

AfriForum bou sélf, ondanks munisipale verval

Terwyl munisipale bestuur in die JB Marks-munisipaliteit hulself verryk ten koste van die gemeenskap, het AfriForum die afgelope maand sy eie buurtspan in Potchefstroom op die been gebring. Dié span voltydse werkers fokus op die lewering van dienste wat die munisipaliteit nie meer in staat is om te lewer nie. Die buurtspan pak onder meer infrastruktuurprobleme, opruimingsaksies en ander gemeenskapsprojekte aan.

’n Herwinningsprojek is ook in Potchefstroom van stapel gestuur waardeur inwoners se herwinbare materiaal ingesamel, gesorteer en verkoop word. Die opbrengs daarvan word teruggeploeg in plaaslike gemeenskapsprojekte.

“Ons kan nie bloot toekyk hoe ons dorpe onder die gewig van swak bestuur en kaderontplooiing verbrokkel nie. Waar die staat faal, staan gemeenskappe op. AfriForum is ’n organisasie van bouers. Daarom bou ons praktiese oplossings wat ’n tasbare verskil maak, eerder as om toe te kyk hoe belastinggeld op wanbestuur en buitensporige salarisse vermors word,” sluit Grobbelaar af.

Ondersteun AfriForum se veldtog teen kaderontplooiing Kaderontplooiing lei reeds dekades lank tot onbevoegde aanstellings, finansiële wanbestuur en die ineenstorting van munisipale dienslewering in elke uithoek van die land. Voeg jou stem hier by AfriForum se stryd teen kaderontplooiing.

Soortgelyke plasings

Magsmisbruik