AfriForum eis herkoppeling van watertoevoer na Margate-kompleks wat onregmatig afgesny is
’n Kankerpasiënt en verskeie bejaarde inwoners van ’n woonkompleks in Margate is reeds drie weke lank sonder water gelaat nadat die Ugu-distriksmunisipaliteit die kompleks se water onregmatig afgesny het. AfriForum bestempel die munisipaliteit se optrede as ’n skending van artikel 27 van die Grondwet en dring daarop aan dat die watertoevoer na dié kompleks in Leonardstraat dringend herstel word. Artikel 27 van die Grondwet bepaal dat almal die reg tot water het.
Watertoevoer na al nege eenhede in die kompleks in Leonardstraat is afgesny weens die agterstallige skuld van een inwoner. Die betrokke eenheid se agterstallige skuld beloop na bewering tans nagenoeg R173 000. Die ander agt eenhede se munisipale rekeninge is almal op datum.
Die gevolge van die munisipaliteit se optrede hou ingrypende gevolge in vir die kompleks se inwoners, wat nou aan onhigiëniese toestande blootgestel word. Sekere inwoners het reeds aangedui dat hulle sedertdien diarree opgedoen het.
AfriForum dring in ’n brief wat vandag aan die munisipaliteit gestuur is, daarop aan dat die watertoevoer sonder verwyl herstel moet word en dat ’n wettige en toepaslike skuldinvorderingsproses gevolg moet word om die uitstaande skuld te verhaal. Die burgerregteorganisasie versoek voorts dat die munisipaliteit ’n redelike afbetalingsooreenkoms met die verantwoordelike party of, indien van toepassing, die kompleks se beheerliggaam moet aangaan, eerder as om alle inwoners van ’n noodsaaklike diens te ontneem.
Volgens Jaco Grobbelaar, AfriForum se hoof vir die sentraalstreek, het munisipaliteite ’n verantwoordelikheid om noodsaaklike dienste – soos die lewering van water – op ’n billike en verantwoordbare wyse te administreer, terwyl die belange van kwesbare inwoners, veral bejaardes en persone met ernstige mediese toestande, beskerm word.
“Toegang tot skoon water is nie ’n luukse nie, maar ’n basiese noodsaaklikheid wat mense se gesondheid, menswaardigheid en lewensgehalte direk raak. Inwoners wat hul munisipale rekeninge getrou betaal, mag nie gestraf word vir die wanbetaling van ander inwoners nie,” sluit hy af.
Staan op teen ongeregtigheid
Ondersteun AfriForum se stryd vir bevoegde en verantwoordbare plaaslike regering hier.



