AfriForum waarsku oor verval van basiese infrastruktuur in kommentaar op vier munisipaliteite se GOP’s
In AfriForum se kommentaar op die konsep-geïntegreerde ontwikkelingsplanne (GOP’s) van die Matlosana- (Klerksdorp), J.B. Marks- (Potchefstroom), Metsimaholo- (Sasolburg) en Ngwathe- Plaaslike Munisipaliteite (Parys), dring die organisasie daarop aan dat die instandhouding van bestaande infrastruktuur die hoogste prioriteit moet geniet. AfriForum stel voor dat nuwe projekte eers op sy geskuif word totdat die nodige onderhoud afgehandel is. Die kommentaar is gebaseer op die werklike probleme wat inwoners daagliks ervaar en wat telkens in al vier munisipaliteite voorkom.
Die grootste knelpunte wat in Klerksdorp, Parys, Potchefstroom en Sasolburg geïdentifiseer is, sluit die verval van padinfrastruktuur, swak instandhouding van water- en rioolnetwerke, onvoldoende infrastruktuurbeplanning, gebrekkige dienslewering en ’n gebrek aan aanspreeklikheid in. Inwoners word gekonfronteer met slaggate, riooloorlope, waterverliese, onvoldoende straatbeligting, swak afvalbestuur en verouderde infrastruktuur wat nie meer aan die gemeenskappe se behoeftes voldoen nie.
AfriForum is veral bekommerd oor die feit dat die munisipaliteite se GOP’s wel die uitdagings in die dorpe erken, maar dikwels nie duidelike, tydsgebonde planne bevat om hierdie probleme op te los nie. Daar is ook ’n duidelike wanverhouding tussen die doelwitte wat op papier gestel word en die toestand van infrastruktuur en dienslewering op grondvlak.
“Gemeenskappe verwag nie wonderwerke nie, maar hulle verwag dat bestaande infrastruktuur behoorlik onderhou en basiese dienste betroubaar gelewer word. Dit help nie om nuwe projekte aan te kondig terwyl paaie, waternetwerke, rioolstelsels en straatligte oral besig is om in duie te stort nie,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.
AfriForum het die betrokke munisipaliteite versoek om instandhouding eerste te stel, toegewyde begrotings vir kritieke infrastruktuur te beskerm, groter aanspreeklikheid vir swak prestasie af te dwing en gemeenskappe beter by beplanning en monitering van dienslewering te betrek.
“Die boodskap uit Klerksdorp, Potchefstroom, Sasolburg en Parys is dieselfde: inwoners wil sien dat bestaande infrastruktuur herstel en onderhou word voordat verdere uitbreidings of nuwe projekte aangepak word. Indien daar nie dringend opgetree word nie, sal die verval van infrastruktuur die druk op munisipale finansies en die agteruitgang van dienslewering net vererger,” sluit Pretorius af.



