Kaderontplooiing in Noordwes lei tot R417 miljoen-vermorsing – AfriForum dring aan op ondersoek
Die buitensporige hoë spandering op konsultante in munisipaliteite in Noordwes is volgens AfriForum die direkte gevolg van volgehoue kaderontplooiing op plaaslikeregeringsvlak. Die burgerregteorganisasie dring daarom aan dat ’n onafhanklike ondersoek oor die spandering van R416 miljoen aan konsultante in Noordwes-munisipaliteite nou moet volg.
Die ouditeur-generaal (OG) se jongste verslag oor Suid-Afrikaanse munisipaliteite toon ’n kommerwekkende afhanklikheid van konsultante, met R1,61 miljard wat in 2024/2025 landwyd aan konsultante bestee is. Die gebruik van konsultante deur munisipaliteite in Noordwes is egter verreweg die grootste. In dié provinsie alleen is R416,59 miljoen bestee op konsultante – nagenoeg tien keer meer as in die Wes-Kaap en meer as ’n kwart van die totale besteding in al nege provinsies.

AfriForum doen, in die lig van dié bevindinge van die OG, ’n beroep op Lazarus Kagiso Mokgosi, premier van Noordwes, om dringend in te gryp om die finansiële wanbestuur in die provinsie – waar nie eens een munisipaliteit ’n skoon oudit kon behaal nie – die hoof te bied. Die organisasie dring ook daarop aan dat die OG, die Openbare Beskermer (OB), die Nasionale Tesourie en Velenkosini Hlabisa, minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake (CoGTA) moet ondersoek instel na dié vermorsing van belastingbetalers se geld en die volgehoue swak munisipale bestuur in die provinsie.
In ’n skrywe wat vandag (10 Julie) aan die premier, OG, OB en minister gestuur is, dring AfriForum onder meer daarop aan dat –
- ’n onafhanklike forensiese ondersoek na die besteding op konsultante gedoen moet word;
- alle betrokke konsultante, kontrakte en verslae wat daarmee verband hou, openbaar gemaak moet word;
- bepaal moet word of die besteding aan konsultante ingevolge die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur neerkom op onreëlmatige, vrugtelose of verkwistende uitgawes;
- kragtens die Grondwet ingegryp word by munisipaliteite wat herhaaldelik versuim om hul grondwetlike verantwoordelikhede na te kom; en
- ’n volledige uiteensetting van die kwalifikasies, ervaring en jaarlikse salarisse van alle personeel werksaam in elk van die afsonderlike munisipaliteite se finansiesdepartemente.
Volgens Jaco Grobbelaar, AfriForum se hoof vir die sentraalstreek, was die besteding aan konsultante duidelik ’n blatante vermorsing van belastingbetalers se geld. “Weens die omvangryke tekort aan finansiële vaardighede en vakante poste het elkeen van die provinsie se 22 munisipaliteite finansiële konsultante aangestel om die werk te doen. Ondanks dié spandering het alle munisipaliteite in die provinsie finansiële state ingedien met wesenlike wanvoorstellings op die gebiede waaraan die konsultante gewerk het,” verduidelik Grobbelaar.
Luidens die OG-verslag het konsultantkoste in Noordwes byna verdubbel vanaf R257,53 miljoen in 2020/2021, na R416,59 miljoen in 2024/2025. Benewens die spandering op konsultante, het die provinsie se munisipaliteite ’n bykomende R691,24 miljoen aan hul finansiële eenhede spandeer. “Die provinsie se munisipaliteite het dus, ondanks ’n investering van meer as R1,1 miljard in finansiële konsultante en in finansiële eenhede, steeds power resultate gelewer,” sê Grobbelaar.
Hy hou vol dat hierdie vermorsing toegeskryf kan word aan die volgehoue aanstelling van onbekwame kaders. Die OG-verslag toon self dat konsultante in provinsies oor die hele land heen aangestel is weens ’n gebrek aan vaardighede (53%), ’n kombinasie van vaardigheidstekorte en vakatures (41%) en vakatures (6%).
“Dit wat die OG-verslag blootgelê het, wys nie net op ’n geïsoleerde finansiële mislukking nie, maar op die voorspelbare gevolg van jare se kaderontplooiing, waar politieke lojaliteit belangriker geag is as kundigheid en bekwaamheid. Kaderontplooiing lei nie net tot swak bestuur nie. Dit beroof gemeenskappe van hul grondwetlike reg op basiese dienste en waardige lewensomstandighede. Solank as wat onbevoegde politieke aanstellings bo meriete gestel word, sál die land se munisipaliteite bly verval en inwoners die prys daarvoor betaal,” sê Grobbelaar.
“Die tyd vir verskonings is verby. Die inwoners van Noordwes het lank genoeg die gevolge van politieke aanstellings en onbevoegde bestuur gedra. Gemeenskappe verdien bevoegde, professionele en aanspreeklike munisipale bestuur – nie nog verslae, nog konsultante en nog vermorsing van belastinggeld nie,” sluit Grobbelaar af.
Voeg jou stem by AfriForum se stryd teen kaderontplooiing
Voortdurende verval van munisipale infrastruktuur en die vermorsing van openbare fondse is die direkte gevolg van swak bestuur en ’n gebrek aan aanspreeklikheid. Ondersteun AfriForum se stryd teen kaderontplooiing en onbevoegde munisipale bestuur hier.



