|

Kaderkrisis: Onbevoegde munisipale besture in Noordwes, Vrystaat en KwaZulu-Natal moet waai

Jaco Grobbelaar (Afrikaans)

Munisipale besture in Noordwes, die Vrystaat en KwaZulu-Natal moet volgens AfriForum aanspreeklik gehou word vir die ernstige agteruitgang van hul munisipale gebiede voordat talle plaaslike ekonomieë heeltemal ten gronde gaan. Die burgerregteorganisasie het daarom ’n petisie van stapel gestuur om onder meer te eis dat korrupte en onbevoegde munisipale besture uiteindelik verantwoordbaar gehou word vir die agteruitgang. AfriForum sal dié kwessie aan die groot klok hang indien die herstel van bevoegde leierskap en basiese dienslewering nie in dié provinsies geprioritiseer word nie.

Jaco Grobbelaar, AfriForum se hoof van die sentraalstreek, sê die voortdurende verval van munisipaliteite kan toegeskryf word aan jarelange kaderontplooiing, wanbestuur, korrupsie en die aanstelling van onbevoegde amptenare. Terwyl gemeenskappe sonder water, elektrisiteit en basiese dienslewering sit word miljarde rand jaarliks vermors aan korrupte en onbekwame munisipale besture.

Die Vrystaat staan uit as een van die swakste bestuurde provinsies in Suid-Afrika. Geen van die munisipaliteite in dié provinsie het volgens die ouditeur-generaal se ouditverslag oor plaaslike regering vir die 2023/2024-boekjaar ’n skoon oudit ontvang nie. Dit terwyl infrastruktuur, waternetwerke en rioolstelsels aan die rand van ineenstorting is. Die ouditeur-generaal het bevind dat waterverliese in die Vrystaat tussen 2016 en 2023 meer as R3,7 miljard beloop as gevolg van waterlekke, swak infrastruktuur en onwettige aansluitings. Sommige munisipaliteite verloor meer as 80% van hul water voordat dit inwoners bereik.

Die situasie in Noordwes is ewe rampspoedig. Verslae deur die ouditeur-generaal wys vir jare reeds op die grootskaalse wanbestuur, onreëlmatige uitgawes en die algehele afwesigheid van aanspreeklikheid. Geen skoon oudits is in die afgelope jare behaal nie en gemeenskappe word gedwing om met vervalle paaie en wateronderbrekings saam te leef.

In KwaZulu-Natal word verskeie munisipaliteite nou amptelik as disfunksioneel geklassifiseer. Parlementêre komitees moes reeds ingryp nadat die ouditeur-generaal swak bestuur, korrupsie en die gebrek aan gevolgbestuur blootgelê het.

“Die verval van munisipale infrastruktuur raak gewone inwoners direk. Miljoene liters drinkwater gaan verlore, riool vloei in riviere en woonbuurte, infrastruktuur word nie onderhou nie, belasting en tariewe styg terwyl dienslewering ineenstort, en gemeenskappe moet self paaie herstel en projekte aanpak om basiese dienste te verseker,” sê Grobbelaar.

“Dié krisisse word deur die voortgesette ontplooiing van ANC-kaders meegebring want wanneer onbevoegde individue in sleutelposte aangestel word, is swak bestuur, korrupsie en verval onvermydelik.”  

In Noordwes het die ANC-geleide plaaslike regering onlangs verskeie burgemeesters en senior amptenare herontplooi te midde van ernstige diensleweringsprobleme. Dit terwyl verskeie burgemeesters in die Vrystaat geskors is nadat munisipaliteite onder hul bestuur feitlik ineengestort het. Tog bly politieke beskerming en kaderontplooiing steeds die norm.

AfriForum se petisie eis daarom dat kaderontplooiing in munisipaliteite, spesifiek in Noordwes, die Vrystaat en KwaZulu-Natal, gestaak word; korrupte amptenare tot verantwoording geroep word; die aanstelling van bevoegde en gekwalifiseerde personeel geprioritiseer word; en dat ondernemings en burgerlike organisasies toegelaat word om dienslewering te help verrig in gevalle waar munisipaliteite misluk.

“Gemeenskappe kan nie langer die prys betaal vir politieke eksperimente en onbevoegde bestuur nie. Suid-Afrikaners verdien funksionele munisipaliteite, skoon water, veilige infrastruktuur en verantwoordbare bestuur. Indien die ANC dit nie kan lewer nie moet hulle die leisels aan die gemeenskap oorgee om self dienslewering te verrig,” sluit Grobbelaar af.

AfriForum doen ’n beroep op alle inwoners van Noordwes, die Vrystaat en KwaZulu-Natal om die petisie te onderteken en saam druk op die regering toe te pas om hierdie verval te stop.

Teken die petisie nou: https://tinyurl.com/3xwj9c3f.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf