Alberton-tak help SAPD om minibus-taxi op te spoor


Die AfriForum-tak in Alberton se nommerplaatherkenningskameras en operasionele span het gehelp om ’n minibus-taxi wat met ’n aktiewe polisiesaak verband hou, op 27 September in Alberton op te spoor. Lede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) in Brackendowns het die voertuig daarna tot stilstand gebring.
Die kameras het die voertuig die aand van 25 September in Alrode-Suid geregistreer. Dit was aan ’n aktiewe saak by die Thokoza-SAPD gekoppel. AfriForum-lede het ’n patrollie uitgestuur, maar die voertuig het telkens uit hul sig verdwyn.
Vroeg op 27 September het die kameras die voertuig weer geregistreer. Die Alberton-tak se intelligensie- en operasionele spanleiers het dit op Swartkoppies opgespoor en lede van die Brackendowns-SAPD om ondersteuning gevra. Die SAPD het die voertuig in Potgieterstraat tot stilstand gebring.
Die bestuurder en voertuig is daarna na die Thokoza-polisiestasie geneem. Volgens inligting wat aan AfriForum verskaf is, is die bestuurder vrygelaat nadat vasgestel is dat hy eers daardie dag sy eerste skof as bestuurder begin het. Die minibus-taxi is in ’n voertuigskut geplaas.
Die Alberton-tak bedank die Brackendowns-SAPD vir sy vinnige reaksie en die Thokoza-SAPD vir die verdere hantering van die saak.
“Wanneer tegnologie, private veiligheidsinisiatiewe en die SAPD saamwerk, kan ons vinniger op inligting reageer en daadwerklik teen misdaad optree. Kameras alleen kan nie ’n voertuig tot stilstand bring nie; dit verg mense op die grond en polisiebeamptes wat reageer. Sulke samewerking gee ons ’n beter kans om die oorlog teen misdaad te wen,” sê Christopher Trevarthen, leier van AfriForum se Alberton-buurtwag.



