| | | |

Elektrisiteitsprysbeleid: Gevolge nodig vir instellings wat beleide verontagsaam

Klankgreep: Morné Mostert (Afrikaans)

AfriForum het kommentaar by die Departement van Elektrisiteit en Energie ingedien op die Hersiene Elektrisiteitsprysbeleid wat die regering se raamwerk uiteensit vir hoe elektrisiteitspryse, tariewe en verwante heffings in die elektrisiteitsmark bepaal en gereguleer behoort te word. Die organisasie waarsku egter dat hoewel dié beleid nuwe reëls, raamwerke en opdragte bevat, daar nie veel inligting is oor die gevolge wanneer dit verontagsaam word nie.

Dié beleid het onder meer ten doel om die 2008-prysbeleid te vervang en reëls vas te lê wat nie meer uitsluitlik rondom Eskom gebou is nie. Dit handel onder meer ook oor hoe opwekkings-, verspreidings-, en kleinhandelskoste verhaal moet word; hoe netwerk- en kapasiteitsheffings werk; en hoe verbruikers wat hul eie krag opwek, behandel moet word.

Die burgerregteorganisasie meen dat die regering se planne oor hoe landsburgers in die toekoms vir elektrisiteit gaan betaal verkeerdelik op die aanname gebou is dat die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (NERSA), Eskom en munisipaliteite die reëls soos dit in die beleid uiteengesit is, gaan nakom.

Volgens Deidré Steffens, raadgewer vir Plaaslikeregeringsake by AfriForum, is die departement nie in voeling met die werklikheid nie. “’n Reël op papier beteken niks as niemand aanspreeklik gehou word wanneer dit nie nagekom word nie. AfriForum moes reeds meer as een keer hof toe gaan om NERSA te dwing om eenvoudig net sy werk te doen. Nou kry ons nóg ’n beleid wat amper vanselfsprekend aanvaar dat almal hierdie keer die reëls sal volg.”

Volgens AfriForum ken die beleid talle nuwe verantwoordelikhede aan NERSA en elektrisiteitsverspreiders toe, maar is dit nie duidelik genoeg wat die gevolge sal wees wanneer hierdie verantwoordelikhede nie binne die voorgeskrewe tyd of volgens die beleid uitgevoer word nie. AfriForum waarsku dat die beoogde veranderinge of planne kan misluk indien aanspreeklikheid en afdwinging nie behoorlike in die nuwe raamwerk ingebou word nie.

Een van AfriForum se grootste bekommernisse is die verwysing na historiese kostes (sogenaamde legacy costs) en hoe die beleid wil verseker dat hierdie kostes ingewerk word by kragpryse en uiteindelik betaal word deur verbruikers. Eenvoudig gestel verwys hierdie kostesna historiese koste en kontraktuele verpligtinge wat uit die bestaande elektrisiteitstelsel voortspruit en wat steeds in die nuwe elektrisiteitsmark verhaal moet word.

Die probleem is egter dat die Elektrisiteitsprysbeleid aan die een kant vereis dat nuwe elektrisiteitstariewe kostes moet reflekteer, deursigtig en regverdig moet wees, maar aan die ander kant ook voorsiening moet maak dat historiese kostes van verbruikers verhaal kan word. Die beleid stel nie duidelik genoeg dat daar eers aangetoon moet word waar dié koste vandaan kom en waarom dit billik is om dit op huidige verbruikers te pak nie.

Morné Mostert, bestuurder van Plaaslikeregeringsake by AfriForum, meen dat hierdie kostes net nog ’n las op die verbruiker gaan plaas. “’n Historiese koste word nie skielik ’n goeie koste net omdat dit ’n legacy cost genoem word nie. Ons kan nie ’n swart boks skep waarin miljarde rand se historiese koste gegooi word en die verbruiker later die rekening kry nie.”

AfriForum maak ook beswaar teen die wyse waarop die Elektrisiteitsprysbeleid voorsiening maak vir munisipale toeslae (surcharges) op elektrisiteit. Munisipaliteite beskik reeds ingevolge bestaande wetgewing oor die bevoegdheid om sulke toeslae te hef. AfriForum meen dat dit daarom nie nodig is dat die Departement van Elektrisiteit en Energie hierdie bevoegdheid verder deur die elektrisiteitsprysbeleid onderskryf nie, veral aangesien sulke toeslae ’n bykomende bedrag bo-op die werklike koste van elektrisiteitsvoorsiening vir verbruikers kan meebring.

Die werklike probleem is dat munisipale toeslae nie voldoende gereguleer en deursigtig is nie. Verbruikers moet presies kan sien wat hulle vir elektrisiteit betaal en wat ’n ekstra munisipale toeslag is. AfriForum se voorlegging vra daarom dat die Elektrisiteitsprysbeleid nie so ’n toeslag skep of onderskryf nie en dat enige toeslag duidelik van die werklike elektrisiteitstarief geskei moet word.

Dieselfde beginsel geld vir die vaste heffings wat verbruikers betaal wanneer hulle minder elektrisiteit by Eskom of hul munisipaliteit koop, maar steeds van die netwerk afhanklik is.

Die Elektrisiteitsprysbeleid maak toenemend voorsiening vir vaste netwerk-, kapasiteits- en bystandskoste. Daar is geldige kostes verbonde daaraan om aan die netwerk gekoppel te bly, maar AfriForum waarsku dat hierdie heffings nie ’n manier mag word om ’n daling in winste weens ’n daling in verkope met nuwe vaste heffings te vervang nie.

“Dit maak geen sin om ’n nuwe, mededingende elektrisiteitsmark te belowe, maar terselfdertyd ’n stelsel te ontwerp wat Eskom en ander verspreiders se inkomste beskerm wanneer verbruikers elders krag koop of hul eie krag opwek nie. Jy moet betaal vir die koste wat jy werklik veroorsaak – nie beboet word omdat jy minder krag koop nie,” sluit Mostert af.

Vir elke rand wat van ’n elektrisiteitsverbruiker verhaal word, moet dit duidelik wees waarvoor dit gehef word, waarom dit geregverdig is en hoe dit bereken is. Sonder dié deursigtigheid gaan die land nie werklik ’n hervormde elektrisiteitsmark kry nie, maar net nuwe heffings op dieselfde ou probleme.

Word ’n lid

Maak ’n donasie

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf