| | |

AfriForum se Lydenburg- en Machadodorp-takke neem voortou om dorpe se verval te stuit

AfriForum se Lydenburg- en Machadodorp-takke het die afgelope week elk hul eie skoonmaakspan op die been gebring in ’n poging om die toenemende verval van openbare ruimtes in dié dorpe te stuit en hul voorkoms te verbeter.

Die twee skoonmaakspanne sal twee keer per week in hul onderskeie dorpe werksaam wees. Die fokus sal onder meer val op die skoonmaak en instandhouding van openbare ruimtes, sypaadjies en parke. Die spanne gaan ook verskeie projekte aanpak wat daarop gemik is om die dorpe se algemene voorkoms en netheid te verbeter.

Hierdie inisiatief spruit uit die toenemende frustrasie oor die swak toestand van openbare ruimtes en die gebrek aan behoorlike dienslewering deur die Thaba Chweu Plaaslike Munisipaliteit, wat vir Lydenburg (Mashishing) verantwoordelik is, en die Emakhazeni Plaaslike Munisipaliteit, wat Machadodorp (eNtokozweni) bedien.

“Ons kon eenvoudig nie langer toekyk hoe ons dorpe agteruitgaan terwyl openbare ruimtes verwaarloos word en basiese dienslewering agterweë bly nie. Die munisipaliteite het ’n verantwoordelikheid om hierdie areas in stand te hou, maar inwoners word toenemend met die gevolge van swak dienslewering gelaat. Ons het besluit dat ons nie langer gaan wag vir hierdie twee treurige munisipaliteite om op te tree nie. As die munisipaliteite nie hul verantwoordelikhede nakom nie, sal ons as gemeenskap alles in ons vermoë doen om ’n verskil te maak,” sê Arlo van Heerden, AfriForum se distrikskoördineerder in die Laeveld.

AfriForum beklemtoon dat hierdie projekte nie die munisipaliteite van hul verantwoordelikhede onthef nie. Die instandhouding van openbare ruimtes, parke en sypaadjies bly die verantwoordelikheid van die betrokke plaaslike owerhede. Die skoonmaakspanne is eerder ’n praktiese bewys van wat AfriForum kan vermag wanneer daar besluit word om self verantwoordelikheid te neem en nie apaties teenoor die verval van die omgewing te staan nie.

Die organisasie sal voortgaan om druk op die betrokke munisipaliteite toe te pas om hul diensleweringsverantwoordelikhede na te kom, terwyl die plaaslike AfriForum-takke terselfdertyd met daadwerklike projekte sal voortgaan om Mashishing en eNtokozweni se voorkoms te verbeter.

“Ons gaan nie toelaat dat die verval van ons dorpe die nuwe normaal word nie. Lydenburg en Machadodorp verdien beter. Ons wil dorpe hê waarop inwoners trots kan wees en waarvoor ons bereid is om moue op te rol. Dit is tyd dat gemeenskappe self betrokke raak en wys dat hulle omgee vir die plekke waar hulle woon,” sluit Van Heerden af.

AfriForum se Lydenburg- en Machadodorp-takke nooi die publiek uit om deel te word van die takke om sodoende hierdie spanne in hul werk te ondersteun.

Word ’n lid

Maak ’n donasie

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf