|

Die dubbele standaarde tussen die Kempton Park-moorde en plaasmoorde dui op verskuilde agenda

Deur Ernst van Zyl, hoof van Openbare Betrekkinge by AfriForum

Die Suid-Afrikaanse Polisiediens wat die moontlikheid van ’n reeksmoordenaar in die Kempton Park-omgewing ondersoek, en die opruiende reaksie vanaf die algemene publiek en veral vroueregte-aktiviste, het weereens die bestaan van ’n ontstellende dubbele standaard blootgelê.

Terwyl president Cyril Ramaphosa blitsvinnig onlangs, met reg, geweld teen vroue ten sterkste veroordeel het, weier hy na jare steeds botweg om dieselfde te doen rakende gruwelike plaasmoorde en die “Kill the Boer”-dreunsang.

Terwyl ’n toegewyde, multidissiplinêre, spesiale taakspan in ’n japtrap op die been gebring is om die Kempton Park-vrouemoorde te ondersoek, weier die regering steeds om ’n soortgelyke eenheid vir die ondersoek van plaasmoorde te stig.

Ek merk op dat niemand hierdie Kempton Park-moorde as bloot “normale misdaad” afmaak nie. Jy hoor ook geen politici wat dreunsange sing soos “maak die vroue dood” nie. Neem ook kennis van die feit dat die president nie op ’n internasionale platform verklaar: “Daar is geen moorde op vroue in Suid-Afrika nie.” Akademici en politieke kommentators val nie oor hul voete om die mense wat omgee vir hierdie kwessie, beterweterig daaraan te herinner dat daar meer mans as vrouens per dag in Suid-Afrika vermoor word nie.

Die feit dat hierdie vrouemoorde slegs ’n “klein fraksie” van die totale moorde per dag uitmaak word ook nie in die gesig geskree van diegene wat daaroor omgee nie.

News24 is nie koorsagtig besig met ’n heksejag om diegene wat bewustheid skep oor die Kempton Park-moorde op te spoor en die name van hulle en hul geliefdes, asook waar hulle bly, te publiseer nie. Daar is ook ’n merkbare afwesigheid van joernaliste wat grappies op sosiale media maak oor hierdie geweldsmisdaad, soos om sarkasties te vra “watter wyn pas die beste” by reeksmoord op vroue?

Elkeen van hierdie voorbeelde is egter van toepassing op plaasmoorde.

Ek wil nie die wanindruk skep dat ek die kwessie van moorde op vroue as minder ernstig afmaak nie, of dat ek argumenteer dat daar eerder op plaasmoorde gefokus moet word nie.

Hierdie onregverdigbare dubbele standaard moet egter uitgewys word, want dit demonstreer hoe aktiviste teen plaasmoorde nie spesiale behandeling eis nie. Ons eis slegs dat plaasmoorde dieselfde behandeling verdien as enige ander unieke misdaad, soos reeds die geval is met prioriteitsmisdade soos geweld teen vroue, bendegeweld, transitorooftogte en renosterstropery.

Party mag dalk sonder kwaadwillige bedoelings beswaar maak en argumenteer dat, hoewel my uitgangspunt geldig is, dit nie nou die regte tyd is om dit te lug nie.

Ná meer as 10 jaar van bewusmaking en veg teen plaasmoorde, het ek egter besef dat geen week blykbaar nie die “regte tyd” is om daaroor te praat nie. Daar is volgens plaasmoordontkenners mos altyd ander kwessies wat dringender en ernstiger is en eerder ons aandag verdien.

Na aanleiding van AfriForum se onlangse verslag wat die brutaliteit en die marteling dokumenteer wat met vele plaasaanvalle gepaardgaan, asook die 3 000 kruise van plaasmoordslagoffers wat onlangs in Washington DC geplant is, reken ek dis die perfekte tyd om die plaasmoordontkenners weer in die oë te kyk, hul dubbele standaarde bloot te lê en hul verskuilde agendas te ontmasker. Ons is dit aan die slagoffers en hul geliefdes verskuldig.

Word ’n lid

Maak ’n donasie

Soortgelyke plasings

Veiligheid