AfriForum waarsku oor lewensgevaarlike toestande by kruising in Klerksdorp
AfriForum het vandeesweek ’n dringende skrywe aan die waarnemende munisipale bestuurder van die Matlosana Plaaslike Munisipaliteit gerig waarin kommer uitgespreek word oor die algehele verval van Klerksdorp se verkeerstekens. Dit volg nadat inwoners herhaaldelik die onveilige toestande van verskeie strate en kruisings aangemeld het.
Die skrywe het spesifiek gefokus op die gevaarlike kruising op Jan van Riebeeckweg (R30), Leemhuisstraat en Ianstraat. Volgens inwoners is die verkeersligte by dié kruising vir ’n geruime tyd buite werking, terwyl padtekens óf ontbreek, onwettig geïnstalleer óf so vervaag het dat dit nie meer snags sigbaar is nie.
“Hierdie situasie stel padgebruikers daagliks bloot aan onaanvaarbare risiko’s. Die R30 is ’n belangrike roete met swaar verkeer; sonder behoorlike verkeersbeheer is botsings en beserings onvermydelik,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.
Die munisipaliteit het ingevolge die Nasionale Padverkeerswet en die Suid-Afrikaanse Padtekenshandleiding ’n wetlike verpligting om paaie en verkeersbeheermaatreëls te onderhou. Die versuim om dit te doen, dui op growwe nalatigheid en ’n direkte oortreding van hierdie verpligtinge.
Alhoewel die brief op ’n spesifieke kruising fokus, is dit volgens AfriForum slegs ’n simptoom van ’n groter probleem. In baie dele van Klerksdorp is padtekens beskadig of afwesig, padmerke vervaag en verkeersligte buite werking – alles as gevolg van ’n gebrek aan basiese onderhoud deur die munisipaliteit.
“Dit is duidelik dat daar ’n sistemiese mislukking in die onderhoud van infrastruktuur is. Inwoners word aan hul eie lot oorgelaat terwyl hul veiligheid in gedrang is,” voeg Pretorius by.
AfriForum het die munisipaliteit versoek om dringend die verkeersligte te herstel, die padtekens korrek te installeer en tydelike waarskuwingstekens op te rig om padgebruikers betyds te waarsku. Die burgerregteorganisasie het ook die munisipaliteit gewaarsku dat hy aanspreeklik gehou kan word vir enige skade, beserings of lewensverlies wat voortspruit uit hierdie nalatigheid, aangesien die owerheid nou formeel oor die gevaarlike toestande bewus gemaak is.
“AfriForum doen ’n beroep op die munisipaliteit om sy grondwetlike en wetlike verpligtinge ernstig op te neem en onmiddellik op te tree om die veiligheid van Klerksdorp se inwoners te verseker,” sê S.W. Scott, AfriForum se takvoorsitter in Klerksdorp.
Om aan te sluit by AfriForum se Klerksdorp-tak, kontak SW Scott by 082 806 7484.



