| | |

Christiana-tak en Jeug-tak pak gemeenskapsprojekte aan

AfriForum se Christiana-tak het van 22 tot 25 Augustus verskeie praktiese gemeenskapsprojekte in die dorp aangepak om die plaaslike omgewing te verbeter en inwoners se toegang tot belangrike fasiliteite te vergemaklik.

As deel van die tak se projekte is die parkeerlyne in verskeie dele van Christiana oorgeverf. Dit het onder meer die parkeerlyne by die Spar-winkelsentrum ingesluit. Meer as 30 liter padverf is vir hierdie projek gebruik.

Die tak het ook hand bygesit om die ingang na die Wielie Walie-kleuterskool te herstel. Die ingang het weens waterskade onbegaanbaar geraak, wat toegang tot die kleuterskool vir inwoners en ouers bemoeilik het. AfriForum se Christiana-tak het die pad geskraap en herstel om te verseker dat die gemeenskap weer maklik en veilig toegang tot dié skooltjie kan kry.

Daarbenewens het die Christiana-tak, saam met die AfriForum Jeug-tak, verskeie slaggate in die dorp herstel. Hierdie werk vorm deel van die tak se voortgesette betrokkenheid by die verbetering van basiese infrastruktuur en die skep van ’n veiliger en meer toeganklike omgewing vir inwoners.

“Hierdie projekte wys dat gemeenskappe nie net hoef te wag vir dienslewering nie. Waar daar ’n behoefte is, kan inwoners self hande vat en ’n tasbare verskil maak. Ons is trots daarop om prakties betrokke te wees en om saam met die gemeenskap te werk om Christiana te verbeter,” sê Bianca van der Westhuizen, voorsitter van AfriForum se Christiana-tak.

Die totale koste van hierdie projekte beloop meer as R6 000 en die tak wil graag die gemeenskap aanmoedig om aan te sluit by AfriForum ten einde dié tak in staat te stel om meer Projekte soos hierdie aan te pak.

“AfriForum se plaaslike strukture se vermoë lê in sy lede.  Daarom is dit vir ons belangrik om projekte in gemeenskappe aan te pak wat ’n daadwerklike verskil maak.  Om hierdie projekte suksesvol te doen, het ons hulp van die gemeenskap nodig.  Sluit vandag aan by AfriForum en help om jou dorp weer reg te ruk,” sê Jp Nel, AfriForum se distrikskoördineerder vir Stellaland. Hou gerus die Christiana-tak se Facebook-blad dop vir toekomstige projekte waar jy by betrokke kan raak of skakel vir Jp Nel by 081 217 1627 om aan te sluit as AfriForum-lid

Word n lid

Maak n donasie

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf