Boland-takke skerp paraatheid op met rampbestuur en veldbrandopleiding


AfriForum se Boland-takke het op 11 en 12 April ’n suksesvolle rampbestuur- en veldbrandopleidingsessie in Pearly Beach bygewoon. Tarien Cooks, rampbestuurspesialis by AfriForum, het dié opleiding aangebied aan onderskeidelik die Worcester-, Overstrand- en Struisbaai-takke.
Altesaam 40 lede het aan die opleiding deelgeneem, wat daarop gemik was om gemeenskappe beter toe te rus om doeltreffend op rampe en veldbrande te reageer, asook om proaktiewe voorkomingsmaatreëls te bevorder.
Die rampbestuuropleiding het gefokus op die raamwerk van rampbestuur in Suid-Afrika en hoe dit funksioneer, samewerking tussen die verskillende sfere van regering se rampbestuursafdelings, asook die rol wat AfriForum binne hierdie strukture kan vervul. Deelnemers is ook toegerus met praktiese kennis oor wat om te doen voor, tydens en ná ’n ramp.
Die veldbrandopleiding het ten doel gehad om lede se eie veiligheid te bevorder, veldbrande te help voorkom en duidelikheid te skep oor AfriForum se rol tydens sulke insidente. Verdere fokusareas het ingesluit die nodige optrede voor, tydens en ná veldbrande op tak- en buurtwag-vlak, asook samewerking met ander rolspelers tydens noodgevalle.
Hierdie inisiatief vorm deel van AfriForum se voortdurende pogings om gemeenskappe te bemagtig en weerbaar te maak teen noodgevalle en natuurrampe, veral in gebiede wat gereeld deur veldbrande geraak word.
“Die opleidings het die AfriForum-takke toegerus met die nodige kennis oor die voorkoming en bestryding van veldbrande. Dit het hulle ook gewys hoe gedissiplineerde optrede voor, tydens en ná rampe ’n tasbare verskil kan maak in hul gemeenskappe,” sê Cooks.
Marique van Dalen, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Boland, spreek haar opregte dank en waardering uit teenoor Tarien Cooks vir die aanbieding van die opleiding, asook aan Fanie Coetzee, voorsitter van die Overstrand-tak, vir sy leiding en reëlings. Van Dalen het ook Mark Boontjies van AfriForum se Pearly Beach-buurtwag, bedank vir hierdie tak se bydrae tot die sukses van die geleentheid.
“Dit is vir ons belangrik dat ons takke en buurtwagte kan ontwikkel met behulp van opleiding en samewerkingsgeleenthede. Só kan ons saam bou aan meer veerkragtige gemeenskappe,” sluit Van Dalen af.
Raak vandag betrokke by jou naaste AfriForum- takke. Besoek www.wordlid.co.za vir meer inligting.



