AfriForum ry 120 000 liter water aan gedurende wateronderbrekings


Standertonners het in Maart met hul hande in hul hare gesit weens voortdurende wateronderbrekings. Die plaaslike AfriForum-tak het egter vinnig ingespring en gehelp om noodwater by verskeie rolspelers in die dorp uit te kry. Dié tak het gedurende Maart meer as 120 000 liter water aangery.
Danksy die AfriForum-tak wat water aangery het, kon die plaaslike dialise-sentrum voortgaan om hul lewensbelangrike diens te verrig. Die tak het ook water by ’n kleuterskool afgelewer in hierdie tyd.
Leon Enslin, voorsitter van AfriForum se Standerton-tak, meen dat hulle sal voortgaan om selfs in die middernagtelike ure water aan die dialise-sentrum te lewer as dit beteken dat dié sentrum kan voortgaan om pasiënte te help.
AfriForum het ook ‘n skrywe gerig aan die provinsiale departement van Water en Sanitasie om duidelikheid te kry oor waarom meeste dorpe in die hoëveld nie voldoende water lewering ontvang nie. Alhoewel die oorsake van die verskeie dorpe se probleme bekend is, is dit egter ’n groot bekommernis dat probleme nie opgeklaar of verminder word nie.
Dorpe word gereeld sonder water gelaat vir langer as 24 uur aaneen ongeag of die probleem deur nalatigheid van kontrakteurs of finansiële wanbestuur veroorsaak is nie.
Sommige areas was al vir langer as ’n week sonder water.
Daarbenewens het die Standerton-tak ook ’n opknappingsprojek by Laerskool Standerton aangepak om slaggate voor dié laerskool se hek in Schwickardstraat te herstel. Die skool self het 100 sakke teer geborg om die werk te verrig en die AfriForum-tak het ’n addisionele 120 sakke geborg asook die arbeid verskaf.
“Die strate is byna onbegaanbaar en karre swaai uit om slaggate te mis wat veiligheidsrisiko’s vir die leerders van die skool en ander motoriste inhou. Juis daarom help ons graag die skool om hierdie slaggate te herstel,” sluit Enslin af.
Besoek www.wordlid.co.za om by AfriForum se Standerton-tak betrokke te raak en help só om ’n verskil in jou omgewing te maak.



