| |

AfriForum verskerp patrollies ná vlaag hekmotordiefstalle in Alberton

AfriForum se Alberton-buurtwag het die afgelope tyd sy sigbare teenwoordigheid in die gemeenskap verhoog nadat daar ’n toename in hekmotordiefstal in die Randhart- en Newmarket-woonbuurte waargeneem is.  Die buurtwag se patrolleerders het ook op verskeie ander veiligheidsvoorvalle in die Alberton-omgewing gereageer.

Volgens inligting wat deur lede van die gemeenskap aan die buurtwag verskaf is, is ’n wit Kia Picanto met vier insittendes tydens van die voorvalle van hekmotordiefstal in die omgewing opgemerk. Dit is nog nie bevestig of die voertuig of sy insittendes by die diefstalle betrokke was nie.

Sedert AfriForum sy patrollies verskerp het, het die buurtwag geen verdere hekmotordiefstalle in die betrokke buurte aangeteken nie. Hekmotors en hul onderdele, waaronder batterye, ratkaste en elektroniese komponente, word dikwels vir herverkoop geteiken. Wanneer ’n hekmotor gesteel of beskadig word, ly inwoners nie net finansiële skade nie, maar word ’n eiendom se eerste veiligheidsversperring ook verswak.

Christopher Trevarthen, buurtwagleier van AfriForum se Alberton-buurtwag, benadruk dat hekmotors nie net duur is nie, maar ook ’n belangrike deel van ’n huis se beveiliging. “Wanneer dit gesteel word, word inwoners se eiendom en veiligheid in gevaar gestel. Ons het daarom ons patrollies in Randhart en Newmarket verskerp. Sedertdien het die buurtwag geen verdere soortgelyke voorvalle in hierdie buurte aangeteken nie, maar inwoners moet waaksaam bly,” verduidelik hy.

Die buurtwag het ook onlangs opgetree nadat ’n Toyota Fortuner by die Alberton LewenSentrum Gemeente in Meyersdal gesteel is. AfriForum se patrolleerders het onmiddellik met ’n soektog na die voertuig begin. Die voertuig is later in Dawn Park, Boksburg, deur ’n plaaslike sekuriteitsmaatskappy opgespoor en teruggevind.

In ’n afsonderlike voorval by die Engen-vulstasie in Brackenhurst het AfriForum se patrolleerders tussenbeide getree toe ’n groep jongmense, wat vermoedelik onder die invloed van alkohol was, by die vulstasie opgedaag en met petroljoggies in ’n konfrontasie betrokke geraak het. Die patrolleerders het gehelp om die situasie te ontlont en verdere konflik te voorkom, waarna Fox Security en CPS Security die voorval verder hanteer het, aangesien die vulstasie onder hul sekuriteitsdiens val.

AfriForum se Alberton-buurtwag moedig inwoners aan om waaksaam te bly, verdagte persone of voertuie aan te meld en nie self verdagtes te konfronteer nie. Deur samewerking tussen inwoners, privaat sekuriteitsmaatskappye, gemeenskapsveiligheidstrukture en die polisie kan ’n veiliger gemeenskap geskep word.

Word n lid

Maak n donasie

Soortgelyke plasings

Veiligheid