AfriForum eis dringende herstelwerk aan paaie om Sasolburg
AfriForum het gister ’n formele skrywe aan die Vrystaatse Departement van Gemeenskapsveiligheid, Paaie en Vervoer gerig oor die verslegtende toestand van hoofroetes om Sasolburg, insluitend die R57, R59 en die brug oor die Vaalrivier. Volgens AfriForum hou die swak toestand van hierdie paaie ’n ernstige gevaar vir padgebruikers in en benadeel dit ook plaaslike ekonomiese aktiwiteit.
In die brief het die organisasie die departement versoek om ’n dringende assessering van die betrokke paaie te doen; alle gevaarlike slaggate onmiddellik én behoorlik te herstel; die dreineringstelsels op die brug skoon te maak en behoorlik te onderhou en die pad aan weerskante skoon te hou; en ’n duidelike instandhoudingsplan en tydlyn vir herstelwerk bekend te maak.
“Die R57 aan beide die Vrystaat- en Gauteng-kant is in ’n uiters swak toestand en vol slaggate wat daagliks vererger. Die R59 is die hoofroete tussen die N1 en die Oos-Rand en dra die verkeer, waaronder baie vragmotors, na die Wes- en Oos-Kaap. Dit is eenvoudig onaanvaarbaar dat so ’n belangrike roete so verwaarloos word,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.
AfriForum erken dat sekere herstelwerk reeds op die R59 gedoen is, maar beklemtoon dat die herstelwerk egter nie op standaard is nie. Boonop is daar steeds diep en gevaarlike slaggate wat dringend aandag benodig. Die organisasie het ook ernstige kommer uitgespreek oor die toestand van die brug oor die Vaalrivier. Met reënval dam water op die brug op as gevolg van verstopte dreineringstelsels wat nie behoorlik onderhou word nie. ’n Verdere probleem is die kante van die pad wat nie skoon gehou word nie en oorgroei is. Dit het tot gevolg dat die water nêrens heen kan vloei nie en dus in die pad opdam.
“Hierdie situasie skep uiters gevaarlike toestande vir motoriste en verhoog die risiko van ongelukke. Dit dui op ’n gebrek aan basiese instandhouding en beplanning,” voeg Pretorius by. AfriForum waarsku dat die huidige toestand ’n aanduiding is van onvoldoende instandhouding en swak koördinering tussen die Vrystaat en Gauteng se onderskeie vervoerdepartemente met betrekking tot gedeelde infrastruktuur.
AfriForum waarsku dat verdere stappe oorweeg sal word indien die departement nie dringend optree nie.
“Padgebruikers kan nie verwag word om hul veiligheid en voertuie in gevaar te stel as gevolg van swak instandhouding van kritieke infrastruktuur nie,” sê Braam Muller, die voorsitter van Sasolburg se AfriForum-tak.
Die gemeenskap word aangemoedig om by dié AfriForum-tak en -buurtwag betrokke te raak om sodoende ’n daadwerklike verskil te maak: Kontak Muller by 076 125 7773.



