Kempton Park-buurtwag en Kaapstad ruil kennis oor gemeenskapsveiligheid uit
AfriForum se Kempton Park-buurtwag het Donderdagaand, 17 September, met raadslid JP Smith, Kaapstad se burgemeesterskomiteelid vir Veiligheid en Sekuriteit, vergader om praktiese kennis en ervaring oor gemeenskapsveiligheid uit te ruil.
Die gesprek het plaasgevind teen die agtergrond van ernstige veiligheidsuitdagings in Kempton Park en omliggende gebiede. Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) het vroeër vandeesmaand ’n veiligheidswaarskuwing uitgereik nadat die liggame van vier vroue binne ’n tydperk van ongeveer twee maande in die Kempton Park-gebied gevind is.
Teen 17 September is berig dat die liggame van nege vroue op verskillende plekke in Ekurhuleni gevind is. Die SAPD het ’n multidissiplinêre taakspan ingestel om die sake te ondersoek en vas te stel of daar enige verband tussen hulle is.
Die gesprek met Smith het gefokus op die bestuur van buurtwagte, samewerking met wetstoepassingsagentskappe en praktiese maniere waarop georganiseerde gemeenskappe plaaslike veiligheid kan versterk. Khathutshelo Rasilingwane LPW, die Demokratiese Alliansie se 2026 burgemeesterskandidaat vir Ekurhuleni, het ook die vergadering bygewoon.
Tydens die vergadering het Smith sy ervaring van gemeenskapsveiligheidsinisiatiewe, buurtwagstrukture en samewerking tussen gemeenskappe en wetstoepassingsagentskappe gedeel. AfriForum se Kempton Park-buurtwag het op sy beurt sy ervaring van die plaaslike veiligheidsomgewing en die uitdagings waarmee gemeenskappe in die gebied te kampe het, gedeel.
“Gemeenskapsveiligheid ken geen munisipale grense nie. Buurtwagte en ander veiligheidstrukture kan baie by mekaar leer oor wat in die praktyk werk. Ons waardeer raadslid Smith se bereidwilligheid om sy ervaring te deel en wil relevante benaderings identifiseer wat tot verbeterde veiligheid in Kempton Park kan bydra,” sê Ernest Hoddinott, hoof van veiligheid by AfriForum se Kempton Park-tak.
Kaapstad beskik alreeds oor gevestigde strukture vir samewerking met gemeenskappe. Die Kaapstad-metro het vroeër in September sy jaarlikse inligtingsessie vir buurtwagte aangebied, wat deur 101 buurtwagte en 250 ander deelnemers bygewoon is. Die sessie het onder meer gefokus op die rol van buurtwagte, veilige aanmelding van voorvalle, die uitruil van inligting en samewerking met die Stad se wetstoepassingsagentskappe.
Die Kaapstad-metro het ook onlangs sy nuwe ‘Joint Public Safety Operations Center’ (JPSOC) in Goodwood geopen. Die sentrum bring die Kaapstad-metro se polisiedienste en veiligheidstegnologie op een plek bymekaar om die koördinering van operasionele aktiwiteite en reaksies te verbeter.
AfriForum se Kempton Park-buurtwag sal die relevante lesse uit die gesprek verder ondersoek en voortgaan om sy samewerking met plaaslike veiligheidbelanghebbendes en wetstoepassingsagentskappe te versterk.



