AfriForum se Upington-tak knap kragbokse op as deel van die 2026-skoleprojek


AfriForum se Upington-tak het op 16 en 17 September verskeie kragbokse in Upington afgeskuur en nuut geverf as deel van AfriForum se skoleprojekt wat landwyd vir 2026 aangepak word.
Drie kragbokse in die omgewing van Hoërskool Duineveld in Jan de Klerk-straat, Oosterville is opgeknap nadat dit deur die jare erg deur die son verbleik is en met graffiti ontsier is. Die kragbokse is deeglik afgeskuur en daarna met groen glansverf geverf om die skoolomgewing weer netjieser te laat vertoon.
Nóg twee kragbokse in Eerstelaan, langs die Oranjehof Tehuis vir bejaardes is ook as deel van dié projek afgeskuur en oorgeverf.
Die tak het sy opregte dank uitspreek teenoor Lumber City vir die skenking van verf, kwaste en rollers wat die projek moontlik gemaak het. Spesiale dank gaan ook aan Ruan Strauss, een van die plaaslike tienerseuns, wat met groot ywer en entoesiasme ingespring het om te help om die kragbokse op te knap.
“Hierdie projek is ’n uitstekende voorbeeld van hoe gemeenskapslede en plaaslike besighede saam kan werk om hul omgewing te verbeter en te verfraai. Ons is dankbaar vir elke rolspeler wat ’n bydrae gelewer het om van hierdie projek ’n sukses te maak,” sê Werner Strauss, AfriForum se distrikskoordineerder vir die Kalahari.
AfriForum moedig gemeenskappe oor die land heen aan om aktief betrokke te raak by projekte wat bydra tot die verbetering en instandhouding van openbare ruimtes. Deur samewerking tussen inwoners, plaaslike instellings en ondernemings kan ’n daadwerklike verskil gemaak word in die behoud van veilige, skoon en netjiese woongebiede.



