Naledi-munisipaliteit, Vryburg
| | |

AfriForum maan Naledi-munisipaliteit om padinfrastruktuur te verbeter

AfriForum het op 15 April ’n skrywe aan die Naledi Plaaslike Munisipaliteit gerig oor die swak toestand van padinfrastruktuur in Vryburg. Die paaie in dié Noordwes-dorp is besig om spoedig agteruit te gaan en wat dit egter kommerwekkend maak, is dat die munisipaliteit hierdie paaie minder as ’n jaar terug herstel het. Noord-, Molopo- en Stellastraat is van die groot kopsere in Vryburg.

Ná ’n goeie reënbui is dit veral moeilik om die slaggate in die paaie duidelik te sien en dus hou die toestand daarvan ’n groot gevaar vir motoriste in. Dit is alreeds uitdagend vir die gemeenskap om hierdie roetes te gebruik en met verskeie groot sportbyeenkomste wat eersdaags in Vryburg plaasvind, het AfriForum ’n beroep op die munisipaliteit gedoen om die padinfrastruktuur so gou as moontlik op te knap en slaggate te herstel.

AfriForum versoek ook verder dat die munisipaliteit ’n plan voorlê oor hoe hierdie probleem aangepak gaan word, asook wat beplan word om te verseker dat die padinfrastruktuur in ’n goeie toestand bly en nie so gou weer verswak nie. Verder het AfriForum ook hul hulp in dié verband aangebied en die munisipaliteit gevra om hande te vat om sodoende probleme soos hierdie vinniger op te los en saam beter oplossings te vind.

“Die gemeenskap kla al ’n geruime tyd oor Vryburg se swak padinfrastruktuur, wat ’n risiko vir motoriste inhou, veral in die nag. AfriForum doen ’n dringende beroep op die munisipaliteit om aandag aan hierdie probleem te gee en bied ook sy hulp en kennis aan die munisipaliteit om sodoende te verseker dat slaggate langer hou,” sê Jp Nel, AfriForum se distrikskoördineerder vir Stellaland.

Raak vandag nog by AfriForum se strukture betrokke. Jy kan help om jóú omgewing te beveilig: Klik hier vir meer inligting.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf