| | |

AfriForum-noodfonds help Kransberg-gemeenskap om hoofpad ná swaar reën te herbou

AfriForum het deur sy noodfonds ondersteuning gebied aan die Kransberg-gemeenskap in die Thabazimbi-distrik nadat swaar reënval in Maart hul hoofpad onbegaanbaar gemaak het en die gemeenskap feitlik van die buitewêreld afgesny was.

Die aanhoudende reën het ernstige skade aan die bestaande padinfrastruktuur veroorsaak, wat reeds oor jare heen agteruitgegaan het weens gebrekkige instandhouding en onvoldoende dreinering. Water wat van die berg afvloei, het die pad in effek in ’n modderige rivierbedding omskep met sinkgate en sagte kolle wat dit vir gewone voertuie onmoontlik gemaak het om die pad te gebruik. Slegs sekere viertrekvoertuie kon met groot moeite deurkom, terwyl baie voertuie vasgesit het.

Hierdie situasie het ’n direkte impak op die gemeenskap se daaglikse lewe gehad, aangesien inwoners nie hul werkplekke kon bereik nie en toegang tot noodsaaklike dienste, voedsel, veevoer en mediese benodigdhede ernstig belemmer is.

Met finansiële ondersteuning uit AfriForum se noodfonds kon ’n herstelprojek vinnig van stapel gestuur word. Die projek het onder meer die gebruik van swaar masjinerie, vragmotors en die aanry van groot hoeveelhede gruis behels om die pad se drakrag te herstel en stabiliteit te verbeter. In totaal is meer as 200 kubieke meter gruis gebruik om ’n kritieke gedeelte van die pad te rehabiliteer. Die projek het van 23 tot 25 Maart plaasgevind.

Die gemeenskap het ook self ’n aktiewe rol gespeel deur arbeid te verskaf en dreineringskanale oop te maak om verdere skade te voorkom. Hierdie samewerking het daartoe gelei dat ’n gedeelte van die pad weer bruikbaar gemaak kon word, wat noodsaaklike toegang vir inwoners herstel het.

“Die werklikheid is dat gemeenskappe toenemend op hulself aangewese is. Nasionale Rampbestuur verklaar nie meer rampe nie, maar word slegs as sodanig geklassifiseer, wat beteken dat daar in baie gevalle nie meer noodsaaklike fondse beskikbaar gestel word vir die herstel van kritieke infrastruktuur nie. Dit laat gemeenskappe kwesbaar en sonder ondersteuning in krisistye. AfriForum se noodfonds speel daarom ’n onmisbare rol om vinnig en prakties in te gryp waar die staat nie meer kan of wil nie. Ons doen ’n dringende beroep op die publiek om AfriForum se noodfonds te ondersteun sodat ons kan voortgaan om gemeenskappe te help om weer op hul voete te kom,” sê Tarien Cooks, AfriForum se rampbestuurspesialis.

Volgens Hendrik Kotze, AfriForum se provinsiale koördineerder in Limpopo, is die Kransberg-projek ook ’n bewys van wat bereik kan word wanneer gemeenskappe en organisasies saamwerk om praktiese oplossings te implementeer.

Die Kransberg-gemeenskap het hul opregte dank teenoor AfriForum uitgespreek vir die organisasie se vinnige reaksie en bereidwilligheid om in ’n tydperk van groot nood te help.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf