AfriForum rus 700 Laerskool Skuilkrans-leerders toe teen boeliegedrag


Boeliegedrag bly ’n wesenlike uitdaging in Suid-Afrikaanse skole. Volgens die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK) het klagtes oor boeliegedrag 68% uitgemaak van die klagtes wat by skole wat in dié kommissie se jongste monitering ondersoek is, ontvang is. Teen hierdie agtergrond het AfriForum tydens Laerskool Skuilkrans in Pretoria se Teenboelieweek sowat 700 leerders toegerus om ’n aktiewe rol te speel in die skep van ’n skoolomgewing waarin respek, verantwoordelikheid en omgee vir ander uitgeleef word.
Die teenboelie-aanbieding het voortgebou op die waardes wat reeds deel van Laerskool Skuilkrans se skoolkultuur is. In plaas daarvan om bloot vir die 700 leerders te vertel wat hulle nié moet doen nie, is hulle uitgedaag om te dink oor watter soort mens hulle kies om te wees wanneer niemand vir hulle sê wat om te doen nie.
“Wanneer ’n skool reeds sterk waardes uitleef, is ’n teenboelieprogram ’n geleentheid om daardie waardes verder prakties te maak,” sê Mari-Louise Erasmus, aanbieder van AfriForum se teenboelieprogram. “Kinders moet weet dat hulle ’n belangrike rol speel in die soort skoolgemeenskap waarvan hulle deel is. Elke vriendelike woord, elke insluitende optrede en elke keer wat ’n kind kies om die regte ding te doen, maak ’n verskil.”
As deel van die aanbieding het leerders geleer om tussen konflik en boeliegedrag te onderskei en om die onderskeie rolle van die slagoffer, oortreder en getuie te verstaan. Daar is ook beklemtoon dat ’n getuie nie bloot ’n toeskouer hoef te wees nie, maar dat dit belangrik is om hulp by ’n betroubare volwassene te vra wanneer ’n situasie te groot is om alleen te hanteer.
Die aanbieding het leerders daarom aangemoedig om te besef dat hulle daaglikse keuses ’n invloed op ander het. Elke kind kan ’n rol speel om deel van die oplossing te wees.
AfriForum se teenboelieprogram gebruik die Wapenrusting van God as een van sy waardegedrewe hulpmiddels en verbind beginsels soos waarheid, vrede, geloof, moed en selfwaarde aan die uitdagings waarmee kinders vandag te doen kry.
Vir die Skuilkrans-leerders was die aanbieding dus nie bloot nog ’n gesprek oor boeliegedrag nie, maar ’n uitnodiging om die waardes wat hulle reeds leer ken het, prakties uit te leef en self dele van die oplossing te wees. Vir meer inligting oor AfriForum se teenboelieveldtog en aanbiedinge by skole stuur gerus ’n e-pos aan onderwys@afriforum.co.za.



