AfriForum help Doringkruin-buurtwag met opruiming van woonbuurt
Die inwoners van Doringkruin in Klerksdorp geniet die netheid van hulle woongebied en dit is alles te danke aan hul eie buurtwag in samewerking met die plaaslike AfriForum-tak.
Van begin Februarie is daar laaghangende takke gesny in Murantiweg, Knoppiesdoringweg en Soetdoringlaan. Die gras op die sypaadjies in Murantiweg is gesny en hulle is besig om die padgeute en randstene daar ook skoon te maak.
Op die hoek van Russelstraat was die gras só hoog dat ’n mens nie die aankomende verkeer kon sien nie. Die hoek is nou oopgesny wat sigbaarheid en veiligheid verbeter. Onkruiddoder is op die sypaadjies van leë erwe gespuit om die groei daar te beheer. Die opslagdoringboompies wat oral op die sypaadjies opgekom het, is gesny en onkruiddoder is toegedien. Daarvan is 3,5 hektaar reeds behandel. Die mooi boompies wat op die regte plekke is, is netjies gesnoei. Daar is 4,7 hektaar gras gesny in hierdie tyd en 50 sakke rommel is opgetel en verwyder.
“Hierdie projek is ’n bewys daarvan dat as ’n gemeenskap hande vat en opstaan vir hul leefruimte, daar ’n merkwaardige verskil gemaak kan word. Die AfriForum-tak beplan om eersdaags ’n voltydse buurtspan op die been te bring, wat dan in die hele dorp ’n verskil wil maak. Die belangrikste is dat inwoners hul hande opsteek,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.
“AfriForum vat graag hande met diegene wat bereid is om ’n verskil in die gemeenskap te maak. Ons het met Doringkruin hande gevat en daaruit het ’n baie mooi projek momentum gekry. Dit is ons groot begeerte en visie dat die hele Klerksdorp dit wat in Doringkruin gebeur, in hul eie buurte gaan doen,” sê SW Scott, AfriForum se voorsitter van die Klerksdorp-tak.
Inwoners wat bydraes wil lewer of meer inligting verlang oor hoe om die projek te ondersteun, kan vir Ockert Botha by 083 453 0373 kontak. Om aan te sluit by AfriForum se Klerksdorp-tak, kontak Scott by 082 806 7484.






