AfriForum se Kathu-buurtwag hanteer drie voorvalle tydens massapatrollie
Die AfriForum-buurtwag in Kathu het die afgelope naweek (Vrydagaand tot Saterdagoggend) hul hande vol gehad gedurende die organisasie se massapatrollie. Dié buurtwag het drie voorvalle hanteer in ’n poging om die omgewing te beveilig. Buiten AfriForum se Kathu-buurtwag het AfriForum se Delportshoop- en Vaalharts-buurtwagte in die Karoo-distrik ook saam met die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) patrollies uitgevoer om sigbaarheid te verhoog en misdaad te bekamp.
Altesaam 89 persone het aan die patrollie deelgeneem, waarvan 26 AfriForum-lede en 63 nielede was. ’n Totaal van 53 voertuie van verskeie plaaslike rolspelers het 218 km in hul onderskeie gebiede afgelê. Die Kathu-buurtwag het die grootste deelname in die distrik gehad met 34 deelnemers, 19 voertuie en 61 km wat afgelê is. Die Delportshoop-buurtwag het twee voertuie ontplooi en 31 km afgelê, terwyl Vaalharts se buurtwag drie voertuie ontplooi en 35 km afgelê het. Geen insidente is in Delportshoop of Vaalharts aangemeld nie.
Al drie insidente wat gedurende die patrollie aangemeld is, het in die Kathu-gebied plaasgevind. In die eerste voorval is ’n groep verdagtes by die Shoprite-sentrum opgemerk. Buurtwag- en SAPD-lede het onmiddellik opgetree, die groep uit die gebied verjaag, die area opgeruim en alkoholiese drank gekonfiskeer.
In ’n tweede voorval is haweloses op ’n openbare perseel aangetref. Die persone is deur die SAPD deursoek en van die perseel verwyder om verdere ontwrigting en moontlike misdaad te voorkom.
Tydens ’n verdere stop-en-deursoek-operasie is ’n verdagte in besit van dagga en ’n mes gevind. Die SAPD het die items gekonfiskeer en die nodige verdere stappe geneem.
AfriForum beklemtoon dat die doel van massapatrollies is om gemeenskappe sigbaar te beveilig en om as die oë en ore van die SAPD op te tree. Die organisasie bedank elke vrywilliger en SAPD-lid wat deel van die Karoo-distrik se patrollie was.



