| |

AfriForum se suidstreek nóg VOLK-skietinstrukteurs sterker

AfriForum se afdeling vir Gemeenskapsveiligheid het die afgelope naweek ses nuwe Vrywillige Opleidingskorps (VOLK)-skietinstrukteurs in die suidstreek opgelewer. Die kursus is in Mosselbaai aangebied en deur AfriForum-buurt- en plaaswagte in hierdie omgewing bygewoon. Buiten dat die lede tydens die opleiding as skietinstrukteurs opgelei is, het hulle ook as  geakkrediteerde baanoffisiere gekwalifiseer. Dit bring die getal skietinstrukteurs in AfriForum se suidstreek, wat Wes- en Oos-Kaap insluit, nou op 50.

Die doel van hierdie kursus is om studente binne die raamwerk van die wet as gekwalifiseerde baanoffisiere op te lei om skietopleiding veilig te kan aanbied. Hulle word opgelei om basiese skietinstruksies te kan gee sodat wettige wapeneienaars hul vaardighede kan oefen ten einde te verseker dat hulle hul wapens veilig en met selfvertroue binne die raamwerk van die wet kan hanteer.

“In die lig van die aanslae wat tans daarop gemik is om wettige wapeneienaars se reg om wapenbesit te beperk, is dit vir AfriForum nou belangriker as ooit dat ons lede verantwoordelike wapeneienaars is, wat ingelig en bevoeg is in die veilige hantering van hul wettige wapens,” sê David Olivier, AfriForum se hoof vir Gemeenskapsveiligheid in die suidstreek.

Soortgelyke plasings

Veiligheid