| | |

AfriForum eis dringende ingryping by lewensgevaarlike Bloem-paaie

AfriForum het die Mangaung Metropolitaanse Munisipaliteit tot verantwoording geroep oor die toenemende verval van Bloemfontein se pad- en verkeersinfrastruktuur, wat tans ’n direkte bedreiging vir padgebruikers en voetgangers se veiligheid inhou.

In ’n brief wat gister aan die metro gestuur is, waarsku die organisasie dat die wye voorkoms van slaggate, verkeersligte wat nie werk nie en dowwe padmerke, gepaardgaande met gebrekkige instandhouding, besig is om Bloemfontein se paaie in ’n lewensgevaarlike toestand te dompel.

Motoriste moet daagliks vir slaggate uitswaai, wat die risiko van motorongelukke drasties verhoog. Terselfdertyd lei die afwesigheid van sigbare padmerke en die wanfunksionering van verkeersligte tot chaotiese verkeersvloei en verhoogde ongeluksyfers. Voetgangers, veral skoolkinders, word direk blootgestel aan hierdie gevaarlike toestande.

“Hierdie is nie meer ’n diensleweringsprobleem nie, maar ’n openbare veiligheidskrisis. Die toestand van Bloemfontein se paaie stel mense se lewens in gevaar,” sê Christo Groenewald, AfriForum se distrikskoördineerder in Bloemfontein.

Groenewald beklemtoon dat die situasie om skole veral kommerwekkend is: “Skoolgebiede behoort veilig te wees, maar tans is dit presies die teenoorgestelde. Die gebrek aan instandhouding in hierdie gebiede plaas kinders se lewens op die spel.”

AfriForum eis nou duidelike antwoorde van die munisipaliteit oor waarom daar geen volhoubare opgradering en instandhouding van padinfrastruktuur plaasvind nie. Die organisasie dring aan op ’n onmiddellike en uitvoerbare plan om die krisis te takel.

“Die gemeenskap betaal vir dienste wat eenvoudig nie gelewer word nie. Hierdie nalatigheid is onaanvaarbaar en kan nie langer geduld word nie. Indien die munisipaliteit nie dringend optree nie, sal AfriForum verdere stappe oorweeg om die veiligheid en regte van inwoners te beskerm,” sluit Groenewald af.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf