Waterwiel-monument ondergaan gedaanteverwisseling ná AfriForum ingryp
Die AfriForum-tak in Keimoes het op 7 Mei die reuse-taak aangepak om die bekende Waterwiel-monument tot sy volle glorie te herstel. Die waterwiel was erg verwaarloos nadat die Kai !Garib Plaaslike Munisipaliteit die afgelope 30 maande versuim het om enige instandhouding daar te doen. Die herstelwerk het tot en met 13 Mei geduur.
Die plaveisel het op plekke ingeval en die waterpyp na die dam is voorheen deur die munisipaliteit op agt verskillende plekke gelas — sommige herstelwerk is selfs met binneband en draad gedoen. Die bak waarin die wiel sy water stort, was deurgeroes. Die dam het ernstige krake gehad waardeur water deurgespoel en stene laat inval het. Gevolglik kon mense nie behoorlik om die dam beweeg nie. Die pyp vanaf die waterwiel tot by die dam was ook verstop, wat veroorsaak het dat die dam leeggestaan en verder gebars het.
Kobus Pool, lid van AfriForum se Keimoes-tak, en Isaac Manda, ’n dagloner, het die herstelwerk aangepak. Die dam is herstel, alle krake is reggemaak en die waterbak is herstel en met twee lae seëlaar oorgeverf. Die pyp is vervang tot binne-in die dam en die kanaalwal is herstel en opgebou.
Nuwe stene is bekom en die plaveisel is netjies herstel. Die wiel stort nou weer water in die waterbak sonder enige lekkasies. Water vloei behoorlik deur tot in die dammetjie sonder om oor te spoel of te lek en alles lyk weer netjies en versorg. Lucky Beukes, ’n helper, het gehelp om die gras te sny en die bome te snoei. Daar is eindelik vier vragte vol gras, takke en vullis met ’n trekker-sleepwa verwyder.
Die Waterwiel-monument is nou weer funksioneel en lyk netjies vir toeriste en die gemeenskap.







