| |

Van slaggate tot sypaadjies: AfriForum-buurtspanne leer rits nuwe vaardighede aan

AfriForum se buurtspanne in Pretoria en Centurion is nou slaggereed om ook basiese messelwerk te verrig as deel van hul dagtake in die uithoeke van die stad. Dit volg ná 12 spanlede van die Centurion-, Groter Moot- en Pretoria-Oos-buurtspanne onlangs ’n messelwerkkursus in Pretoria voltooi het. Dié kursus is aangebied deur Bo-Karoo Opleiding, ’n privaat opleidingsinstelling wat beroepskwalifikasies in skaars vaardighede aanbied.

“Die vaardighede wat die buurtspanlede geleer het, sal hulle in staat stel om herstelwerk aan sypaadjies, randstene en ander basiese infrastruktuur in woonbuurte te doen. Daar sal ook klein bankies en tafels in parkies gebou word en soos meer ondervinding opgedoen word, sal ons ook groter projekte soos die herstel van vervalle waterkanale kan aanpak,” verduidelik Sampie Steinberg, hoof van Gemeenskapstrukture by AfriForum.

AfriForum beskik reeds oor meer as 20 buurtspanne in die Wes-Kaap, Noord-Kaap, Vrystaat, Noordwes, Gauteng en Mpumalanga. Hierdie spanne werk daagliks munisipale verval teen op ’n konkrete en praktiese wyse deur onder meer die herstel van slaggate, verf van padmerkers, vervanging van padtekens, opruiming van rommel en die skoonmaak en instandhouding van groenstroke en parke.

“AfriForum is bekend vir sy wonderlike vrywilligers wat hul eie tyd opoffer om hul dorpe en woonbuurte skoon en netjies te hou. Daar is egter baie meer werk as wat hierdie mense kan behartig en dus het AfriForum buurtspanne op die been gebring om te help om dié omvangryke take aan te pak. Ons het met klein spanne begin, maar dit het vinnig gegroei tot veelsydige werksgroepe wat AfriForum die vermoë gee om die gemeenskap selfs beter te dien en munisipale verval te bekamp,” sê Steinberg.

Wat het buurtspanlede tydens die opleiding geleer?

Buurtspanlede wat die opleiding bygewoon het, beskou die nuwe vaardighede wat hulle aangeleer het, as waardevol vir dit die buurtspanne nog wil vermag.

“Die opleiding het my die selfvertroue gegee om self herstelwerk in my buurt aan te pak. Ek gebruik reeds die vaardighede tydens buurtspanprojekte en by gemeenskapsinstandhouding. Dit het my ook laat besef hoe belangrik praktiese handewerk en vakmanskap vir die toekoms van ons gemeenskappe is,” sê Henk Niemann, buurtspanlid by AfriForum se Groter Moot-tak.

Nóg ’n buurtspanlid by AfriForum se Groter Moot-tak, Wian Bezuidenhout, stem saam: “Dit was vir my waardevol om praktiese vaardighede te leer wat onmiddellik toegepas kan word. Ons gebruik dit wat ons geleer het nou om met eie arbeid ons gemeenskap netjies en beter te maak. Ek sien ook nuwe geleenthede om kwaliteit dienste aan inwoners te bied.”

Henk Niemann, buurtspanlid by AfriForum se Groter Moot-tak

AfriForum se buurtspanne skep werk vir Afrikaners

Volgens Steinberg is AfriForum se buurtspanne nie net voordelig vir die gemeenskappe wat deur hul werk bedien word nie, dit is ook ’n waardevolle werkskeppingsprojek.

“Die buurtspanne is ook ’n bemagtigingsprojek waardeur AfriForum werk vir Afrikaners skep wat nie ander geleenthede kry nie. Buurtspanlede leer vaardighede aan en verdien ’n inkomste en sodoende help ons Afrikaners om op hul eie voete te staan, terwyl hulle hul gemeenskappe dien,” sluit hy af.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf