| |

Hof dwing NERSA om op te tree oor Phalaborwa-kragvoorsiening

AfriForum se Phalaborwa-tak verwelkom ’n belangrike uitspraak in die Pretoriase Hooggeregshof wat beveel dat die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (NERSA) 30 dae het om ’n tribunaal saam te stel om kragvoorsiening in Phalaborwa te ondersoek.

Dié bevel is reeds om 11 September vanjaar in ’n konsepbevel uiteengesit, maar is eers op 7 Oktober amptelik ’n bevel van die hof gemaak. NERSA moet nou ’n tribunaal saamstel om die Ba-Phalaborwa Plaaslike Munisipaliteit se diensstandaarde en versuim om aan sy lisensievoorwaardes te voldoen te ondersoek.

Hierdie uitspraak volg ná jare se vergaderings, skriftelike voorleggings en versoeke deur AfriForum en Let’s Change Phalaborwa aan die munisipaliteit en NERSA oor die swak onderhoud en onbetroubaarheid van die gebied se elektriese netwerk.

Volgens die hofbevel moet NERSA, ingevolge artikel 18(1) van die Elektrisiteitsreguleringswet (4 van 2006), ’n tribunaal saamstel om aantygings te oorweeg dat die Ba-Phalaborwa-munisipaliteit nie aan sy lisensievoorwaardes en die nasionale gerasionaliseerde spesifikasie (NGS) 047-1:2002 minimum diensgehaltestandaarde voldoen het nie. Die hof het verder gelas dat NERSA die koste van die aansoek moet betaal.

“Hierdie uitspraak is ’n deurslaggewende oorwinning vir inwoners wat vir jare sonder betroubare krag moes klaarkom weens swak onderhoud en gebrekkige bestuur. Die hof het duidelik gemaak dat die reguleerder nie langer kan toekyk nie, maar daadwerklik moet ingryp,” sê Hendrik Kotze,  AfriForum se provinsiale koördineerder vir Limpopo.

Dit is die organisasie se derde oorwinning oor NERSA die afgelope week ná die organisasie tydelik ’n skikking tussen NERSA en Eskom kon voorkom en die Pretoriase Hooggeregshof beslis het dat NERSA ook in Rustenburg sy verantwoordelikheid teenoor die gemeenskap moet nakom. Hoewel AfriForum die uitspraak verwelkom meen die organisasie dat dit onaanvaarbaar is dat gemeenskappe hul tot die howe moet wend om NERSA te kry om sy werk te doen.

Let’s Change Phalaborwa, wat saam met AfriForum as applikant opgetree het, beklemtoon dat volgehoue gemeenskapsdruk en behoorlike regsprosesse uiteindelik resultate lewer. “Inwoners het vergader, bewyse versamel en formele klagtes gelê. Hierdie bevel beteken dat NERSA nou móét optree en die munisipaliteit tot verantwoording roep,” sê Roger Ferguson van Let’s Change Phalaborwa.

Wat beteken die hof bevel vir Phalaborwa?

  1. Reguleerder móét handhaaf: NERSA is binne 30 dae verplig om ’n tribunaal te belê en regstappe te oorweeg.
  2. Munisipale nakoming onder die soeklig: Die ondersoek fokus op moontlike oortredings van lisensievoorwaardes en minimum diensgehalte-standaarde.
  3. Kostebevel teen NERSA: Die hof het NERSA gelas om die aansoekkoste te betaal, ’n duidelike vermaning dat versuim om te handhaaf gevolge het.

AfriForum en Let’s Change Phalaborwa sal die proses fyn dophou om te verseker dat NERSA die hofbevel stiptelik nakom, en sal verdere regsaksies oorweeg indien die reguleerder of die munisipaliteit sou versuim om regstellende stappe te neem.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf