| |

Bethal-tak sorg vir water, hou dorp skoon gedurende Januarie

AfriForum se Bethal-tak het reeds vroeg in die jaar gewys dat hulle gemeenskapbouers is. Die tak het onder meer 60 000 liter water aangery toe die krane weer opgedroog het, areas skoongemaak en slaggate tydelik gevul.

Die inwoners van Bethal het die nuwe jaar begin met droë krane. Die Bethal-tak het egter vinnig ingespring en hul noodwaterpunte ingespan om te help met watervoorsiening. Talle boere het ook hul trekkers en vragmotors ingespan om water aan te ry. Meer as 60 000 liter water is tydens hierdie tydperk aangery.

Volgens Hennie Bekker, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoëveld, blyk dit dat 2024 se uitdagings begin herhaal. “In 2024 is inwoners vir meer as 180 dae sonder water gelaat en nou lyk dit of ons op pad is na ’n soortgelyke situasie. Ons het op hierdie stadium geen idee wat die oorsaak is nie, Rand Water en die Govan Mbeki Plaaslike Munisipaliteit verskuif net die blaam oor en weer.”

AfriForum is tans besig met ’n hofgeding teen Rand Water juis oor watervoorsiening in hierdie area. Dit word vandag (6 Februarie) voortgesit.

Die tak het ook verskeie areas in die dorp skoongemaak. Die ingang voor Volkskool Bethal is reeds sedert 2024 in die Bethal-tak se sorg gelaat om netjies te hou en die tak maak sedertdien gereeld hierdie area skoon.

Oudergewoonte het die tak ook die area om die Nestlé-brug en die driehoek skoongemaak. Daar is 36 sakke vol vullis en gras tydens hierdie aksie verwyder.

Die Bethal-tak se vullisdromprojek saam met SkipGo is ook steeds in werking en daar word weekliks meer as 30 sakke vullis weggery om te verseker dat dorp netjies bly.

Die Bethal-tak het ook tydelike verligting aan motoriste gebring toe doleriet in verskeie strate ingery is om die paaie meer toeganklik te maak. Dit is onder meer in Hoëveldlaan, Du Plooy-, Gemsbok- en Blesbokstraat gedoen. Daar is ook herstelwerk verrig aan die stuk pad voor die SAVF Silwerjare Tehuis vir Bejaardes sodat veral noodvoertuie dié tehuis vinniger kan bereik.

“Ons werk elke dag om te help om die lewe van Bethallers te verbeter, nie net wanneer dit tyd is om te stem nie,” sluit Bekker af.

Besoek www.wordlid.co.za om by jou naaste tak aan te sluit of stuur ’n e-pos na hennie.bekker@afriforum.co.za om betrokke te raak.

Word ’n lid

Maak ’n donasie

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf