AfriForum eis deursigtigheid oor Johannesburg-metro se 65%-verhoging van wateraanvraagbestuursheffing
AfriForum versoek dat die Johannesburg Metropolitaanse Munisipaliteit dringend verduidelik hoe dit die voorgestelde verhoging van ongeveer 65,6% in sy wateraanvraagbestuursheffing (water demand management levy) regverdig, en waarsku dat die verhoging ’n onbillike las op betalende inwoners plaas en selfs onwettig kan wees.
Die wateraanvraagbestuursheffing is ’n vaste fooi wat by elke huishouding se maandelikse waterrekening gevoeg word om die bedryfskoste van die waterstelsel te finansier, ongeag hoeveel hulle werklik verbruik. Die metro se burgemeesterskomitee-verslag van 27 Maart 2026 toon ’n voorstel om hierdie heffing van R65.08 na R107.74 per maand te verhoog vir huishoudelike gebruikers as deel van die 2026/27-tariefwysigings wat tans aan openbare deelname onderwerp word. Vir talle inwoners wat reeds sukkel met stygende lewenskoste, beteken dit dat hulle aansienlik meer vir dieselfde diens sal moet betaal.
In ’n formele brief aan die Johannesburg-metro het AfriForum gedetailleerde inligting versoek oor hoe hierdie verhoging bereken is, insluitend die onderliggende metodologie, koste-aannames en enige ondersteunende data of finansiële modelle. Die organisasie het ook bevraagteken of die heffing voldoen aan die wetlike vereistes van koste-weerkaatsing, deursigtigheid en billikheid.
“Heffings wat deur munisipaliteite opgelê word, moet regverdigbaar, deursigtig en gebaseer wees op gesonde finansiële beginsels,” sê Deidré Steffens, AfriForum se raadgewer vir Plaaslikeregeringsake. “Inwoners het die reg om presies te verstaan hoe hierdie heffings bereken word en waarom dit nodig is.”
AfriForum waarsku verder dat inwoners toenemend gedwing word om die koste van munisipale mislukkings te dra deur stygende vaste heffings, terwyl hul eie finansiële druk steeds groei.
“Hoe kan die metro ’n skerp toename in die wateraanvraagbestuursheffing regverdig, terwyl byna die helfte van die water wat die metro aankoop geen inkomste genereer nie en ’n kwart daarvan deur lekkasies verlore gaan? Die metro verloor meer as R2 miljard per jaar deur lekkende infrastruktuur alleen. Inwoners moet nie gedwing word om vir hierdie mislukking te betaal nie. Die herstel van lekkasies, nie die verhoging van heffings nie, moet die nommer een prioriteit wees,” sê Marais de Vaal, AfriForum se raadgewer vir Omgewingsake.
AfriForum moedig inwoners aan om formele kommentaar oor die voorgestelde tariewe in te dien teen nie later nie as 18 Mei 2026 om 17:00. Die organisasie sal die saak steeds noukeurig moniteer en dring daarop aan dat die Johannesburg-metro duidelike, gedetailleerde en wettige antwoorde verskaf. Indien die munisipaliteit nie daarin slaag om die verhoging voldoende te regverdig nie, sal AfriForum verdere stappe oorweeg om die belange van inwoners te beskerm.



