| | |

Tshwane-metro onkant met sportklub-kennisgewing: AfriForum kap metro met regsbrief

Klankgreep: Maree van den Berg (Afrikaans)
Klankgreep: Maree van den Berg (Engels)

AfriForum se regspan het vandag ’n regsbrief aan die Tshwane Metropolitaanse Munisipaliteit oorhandig waarin geëis word dat die kennisgewing waarvolgens die Harlequins-sportklub se gronde teen 13 April 2026 na die “oorspronklike toestand” herstel moet wees, onmiddellik teruggetrek word.

In die skrywe word daar gemeld dat die Harlequins-sportklub reeds in 2021 ’n aansoek ingedien het om die soneringstatus aan te pas soos wat die sportklub sy bedrywighede uitgebrei het. Die sportklub se dorpsbeplanners het die omvattende dorpstigtingsaansoek op 13 Oktober 2021 by die Tshwane-metro ingedien. Dié aansoek bevat inligting oor die sakegebou, restaurant, winkel, sportgronde en opleidingsarea wat die Tshwane-metro as die rede vir hul kennisgewing voorhou.

Voorts is daar sedert die aansoek ingedien is verskeie grootskaalse sport- en sosiale geleenthede op die terrein aangebied. Duisende mense het hierdie geleenthede bygewoon en die Tshwane-metro het die nodige toestemming vir hierdie geleenthede gegee.  AfriForum se regspan voer dus aan dat indien die terrein nie geskik was vir hierdie geleenthede nie, die metro nie die onderskeie aansoeke sou goedkeur nie.

Die kennisgewing was ook vir die Harlequins-sportklub ’n onaangename verrassing aangesien die Tshwane-metro deur die jare ’n legitieme verwagting geskep het oor die sportklub en gepaardgaande ondernemings se bestaan en voortbestaan veral met verwysing na die grondgebruiksregte wat sedert 1952 in plek is.

“Dit is duidelik dat die Tshwane-metro eerder as die Harlequins-sportklub hier nalatig was. Die vraag is nou of die metro hul fout gaan erken en regstel, of gaan hulle swyg en weier om verantwoordelikheid te vat,” sê Maree van den Berg, AfriForum se distrikskoördineerder vir groter Pretoria-Suid.

Die Harlequins-sportklub en AfriForum bied op 11 April ’n samekoms aan waar die gemeenskap hul steun vir die sportklub kan wys. Belangstellendes kan hul bywoning hier bevestig.

Word ’n lid

Maak ’n donasie

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf