Knysna-tak verfraai Buffelsbaai voor toestroming van toeriste oor Paasnaweek
AfriForum se Knysna-buurtspan het hul projek wat daarop gemik is om Buffelsbaai voor die aanvang van die Paasnaweek te verfraai, suksesvol voltooi. Die span het verskeie padtekens oorgeverf en sodoende die veiligheid van toeriste verseker wat na verwagting dié naweek op Buffelsbaai gaan toesak.
Tydens die projek het die AfriForum-buurtspan meer as 100 liter padverf gebruik om padmerke en spoedhobbels in die kusdorpie oor te verf. Die projek het oor ’n tydperk van meer as twee weke gestrek, waartydens 36 spoedhobbels en stopstrate oorgeverf is.
Volgens Marthinus Erasmus, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Suid-Kaap, is die strate van Buffelsbaai nou aansienlik veiliger vir vakansiegangers. “Die nuutgeverfde padmerke en spoedhobbels sal verseker dat vakansiegangers maklik en veilig die gebied kan navigeer,” sê Erasmus.


Die Knysna-buurtspan het reeds verskeie suksesvolle projekte aangepak. In November verlede jaar het die span onder meer die publieke badkamers in Galjoenstraat in Buffelsbaai opgeknap, oorgeverf en herstel vir die publiek se gebruik.
“Ons sal voortgaan om die omgewing van Knysna te verfraai deur projekte soos hierdie aan te pak,” sluit Erasmus af.
Inwoners kan AfriForum Dienste besoek om die herstel van ’n slaggat of verf van ’n padmerk te borg óf by die Knysna-tak as lid aan te sluit om hulle te help om meer te doen. Stuur ’n e-pos na marthinus.erasmus@afriforum.co.za of skakel Erasmus by 081 216 9602 vir meer inligting.



