AfriForum se Uitenhage-buurtwagte en kie neem deel aan massapatrollie
AfriForum se Mosel-buurtwag in Uitenhage het tussen Vrydagaand en Saterdagoggend aan die burgerregteorganisasie se massapatrollie in Uitenhage deelgeneem. AfriForum is baie goed ondersteun deur die volgende baie belangrike rolspelers wat aan die patrollie deelgeneem het: die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD), WoGa Security, Topflight Security Services, Atlas Security, Relay-nooddienste, Gardmed-ambulansdiens, die plaaslike verkeersdepartement en die Nelson Mandelabaai Metropolitaanse Munisipaliteit se ambulansdiens.
Van 21:00 het ’n konvooi van bykans 30 voertuie, begelei deur die SAPD, ’n magsvertoon deur die strate van Uitenhage gedoen. Tydens die magsvertoon het die SAPD verskeie verdagtes in die omgewing voorgekeer en deursoek.
Volgens Louis van der Vyver, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Oos-Kaap, is massapatrollies georganiseerde veiligheidsoperasies wat as afskrikmiddel dien, dit versterk samewerking tussen verskeie rolspelers en bou aan sterker, selfstandige gemeenskappe. Verder skep patrollies ’n platform waar AfriForum-buurtwagte, privaat sekuriteitsmaatskappye, die SAPD, nooddienste en ander strukture kan saamwerk en leer wat elke rolspeler se verantwoordelikheid tydens ’n patrollie en ander ongeluk- of misdaadtonele is.
“Die aktiewe betrokkenheid van ons vrywilligers in hierdie massa-inisiatief wys weereens hoe noodsaaklik georganiseerde gemeenskapsveiligheid is in ’n land waar misdaad handuit ruk. AfriForum is trots op elke patrolleerder wat hul tyd en vaardighede opoffer om hul gemeenskap te help beveilig. Dít is waar ware veiligheid begin – by die gemeenskap sélf,” sluit Van der Vyver af. Hy het ook sers. Cisciro Jonathan, die hoof van Gemeenskapspolisiëring, en kol. Trevor Appel, waarnemende stasiebevelvoerder – albei verbonde aan die polisiekantoor in Uitenhage – vir hul ondersteuning en deelname bedank.
AfriForum moedig die publiek aan om by hul naaste AfriForum-buurtwag aan te sluit. Besoek www.afriforumbuurtwag.co.za vir meer inligting of om betrokke te raak.



