| | | |

Secunda en omliggende gebiede kry dalk eersdaags nuwe kragverspreider

Klankgreep: Deidré Steffens (Afrikaans)
Klankgreep: Deidré Steffens (Engels)

AfriForum verwelkom die Govan Mbeki Plaaslike Munisipaliteit se aankondiging dat hy ’n artikel 78-proses ingevolge die Wet op Plaaslike Regering: Munisipale Stelsels gaan begin om die toekoms van elektrisiteitsverspreiding in dié munisipale gebied te ondersoek.

’n Artikel 78-proses stel ’n munisipaliteit in staat om alternatiewe diensleweringsmeganismes te oorweeg om te bepaal of ’n diens meer kostedoeltreffend, volhoubaar en doeltreffend deur ’n eksterne diensverskaffer gelewer kan word. In hierdie geval fokus die proses op die verspreiding van elektrisiteit.

Volgens AfriForum is hierdie ’n stap in die regte rigting nadat inwoners van die Govan Mbeki-munisipaliteit vir jare onder swak dienslewering, toenemende finansiële wanbestuur en ’n vervalle elektrisiteitsnetwerk gebuk gegaan het.

“Die munisipaliteit se finansiële en operasionele prestasie wys duidelik dat die huidige model nie volhoubaar is nie. Dit is daarom noodsaaklik dat alle moontlike alternatiewe ondersoek word om betroubare elektrisiteitsvoorsiening aan inwoners te verseker,” sê Hennie Bekker, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoëveld.

Die omvang van die munisipaliteit se probleme is duidelik uit sy eie finansiële state. Die Govan Mbeki-munisipaliteit se skuld aan Eskom beloop tans sowat R6,58 miljard. Daarbenewens toon die munisipaliteit se 2024/25-geouditeerde jaarverslag dat 255 067 057 kWh elektrisiteit gedurende die boekjaar verlore gegaan het – gelykstaande aan 47,98% van alle elektrisiteit wat aangekoop is. Hierdie buitengewone hoë verliese plaas verdere druk op die munisipaliteit se finansies en ondermyn volhoubare dienslewering.

Die munisipaliteit het ook deelgeneem aan die Nasionale Tesourie se munisipale skuldverligtingsprogram, maar is uit die program verwyder nadat hy versuim het om sy lopende Eskom-rekeninge betyds en volledig te betaal. Vroeër vanjaar het Eskom die munisipaliteit verder gewaarsku dat hy sy elektrisiteitstoevoer kan beperk of onderbreek indien die munisipaliteit nie sy uitstaande skuld betaal en ’n verspreidingsagentskapsooreenkoms (Distribution Agency Agreement – DAA) met Eskom aangaan nie.

“AfriForum het vroeër vanjaar gewaarsku dat Eskom se gebruik om munisipaliteite te dwing om verspreidingsagntskapooreenkomste te teken teenstrydig is met die artikel 78-proses van die Wet op Munsipale Stelsels,” sê Deidré Steffens, raadgewer vir Plaaslikeregeringsake by AfriForum.

“Eskom se boeliegedrag sny openbare deelname totaal en al uit en maak ’n proses wat oop en objektief moet wees, geslote sonder enige inkoop van die publiek. Die artikel 78-proses verseker dat alle diensleweringsopsies objektief beoordeel word, dat die publiek geraadpleeg word en dat enige besluit in ooreenstemming met die wet geneem word,” sluit Steffens af.

“Die inwoners van die Govan Mbeki-munisipaliteit verdien ’n elektrisiteitsdiens wat doeltreffend bestuur word, finansieel volhoubaar is en waarop hulle kan staatmaak. Indien ’n alternatiewe diensleweringsmodel daartoe kan bydra om dienslewering te verbeter, moet dit ernstig en sonder politieke inmenging oorweeg word. Wat egter bo alle twyfel moet staan, is dat enige besluit volgens die voorskrifte van die wet geneem moet word en nie onder dwang nie,” sluit Bekker af.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf