AfriForum steun fluitjieblaser oor onregmatige Eskom-dieselkontrakte van miljoene rand
AfriForum se privaatvervolgingseenheid verteenwoordig ’n fluitjieblaser wat beweer dat Eskom miljoene rand per maand verloor ten spyte van ’n forensiese verslag wat korrupsie en onreëlmatighede onthul. AfriForum se privaatvervolgingseenheid sal nou saam met die fluitjieblaser werk om die korrupsie bloot te lê en te verseker dat diegene wat hierby betrek word behoorlik ondersoek en vervolg word. Die saak behels onder meer ernstige regeringsmislukkings en korrupsie in die toewysing en bestuur van diesel verkryging- en bergingskontrakte.
Volgens die fluitjieblaser is Eskom in besit van ’n volledige forensiese oudit wat deur Itsamaya Holdings saamgestel is, waarin ongunstige bevindings gemaak is oor sekere maatskappye aan wie die kontrak toegeken is. Die vyf maatskappye aan wie die kontrak toegeken is vir die verkryging en berging van diesel vir Eskom is Astron Energy, Lanele Group, African Shipping and Forwarding, Nutinox en Severino Industries.
Nutinox het onlangs opslae gemaak ná die Johannesburgse Hooggeregshof ’n tender van R263 miljoen om watertenkers oor ’n drie jaar tydperk te verskaf, ongeldig verklaar het. Daar is ook berig dat die maatskappy se direkteure bande het met die adjunkpresident, Paul Mashatile. Lanele Group is tans in ’n regsgeding met Transnet gewikkel wat aantygings van korrupsie en geldwassery in verband met die huur van Transnet eiendom vir die ontwikkeling van ’n brandstofbergingsfasiliteit insluit.
In ’n skrywe aan Eskom sê adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, dat die fluitjieblaser beweer dat die forensiese verslag na ’n regsfirma verwys is vir hersiening. Nel voeg by dat dit blyk ’n tendens te wees van staatsentiteite om onafhanklike forensiese ondersoekers aan te stel om verslae saam te stel en die verslae dan na prokureurs te verwys om tersyde gestel te word indien die bevindinge nie gerieflik is vir magtige individue nie.
Volgens Nel kom hierdie neer op verkwisting van fondse veral waar openbare fondse gebruik word om verslae te bevraagteken wat deur Eskom self aangevra word. Hierdie verslag, wat fokus op die verkryging van brandstof, is na bewering verwys na die Centurion Legal Group.
Die onreëlmatighede wat ondersoek is sluit onder meer verslapte bodkriteria, vooruitbetalings aan verskaffers wat nie oor die beskikbare kapitaal beskik het nie, die aanvaarding van kortingsreëlings wat verskaffers miljoene rande op Eskom se koste besorg het, en gevalle waar Eskom brandstofbergingsfasiliteite aan verskaffers verskaf het terwyl hulle ook vir dieselfde fasiliteite gefaktureer is.
Nel verwys in die skrywe ook na die saak teen die nasionale polisiekommissaris, gen. Fannie Masemola, wat aangekla is ingevolge die Wet op Openbare Finansiële Bestuur 1 van 1999, weens sy versuim om onreëlmatige en verkwistende spandering te voorkom. Volgens Nel was dit Masemola se vier maande-lange versuim om op te tree ná hy ’n soortgelyke verslag ontvang het, wat hom in wetstoepassers se visier geplaas het. Nel maan die kragreus se forensiese hoof en rekenpligtige beamptes om nie dieselfde onverskoonbare oordeelsfout te begaan nie.
In die lig van die wette- en straffeloosheid waaronder fluitjieblasers en getuies in Suid-Afrika vermoor word, het die betrokke fluitjieblaser versoek om anoniem te bly. Die individu vrees dat die kragreus wraaksugtig sal optree teenoor diegene wat onwettighede onthul eerder as dié wat onwettighede pleeg.
AfriForum se privaatvervolgingseenheid het nie dieselfde vrees nie en sal voortgaan om korrupsie aan die groot klok te hang en private vervolging in te stel waar die regering hul plig versaak.



