AfriForum lewer nóg ses VOLK-skietinstrukteurs in suidstreek
AfriForum se afdeling vir Gemeenskapsveiligheid het die afgelope naweek nóg ses nuwe Vrywillige Opleidingskorps (VOLK)-skietinstrukteurs opgelewer. Dit bring AfriForum se getal skietinstrukteurs in die suidstreek, wat die Wes- en Oos-Kaap insluit, op 56 te staan.
Die kursus is die afgelope Saterdag en Sondag met groot sukses by AfriForum se Gemeenskapsveiligheidsentrum in Durbanville aangebied. Die kursus is deur Johan Crous, AfriForum se veiligheidskoördineerder vir die Oos- en Wes-Kaap, aangebied en het deelnemers van verskeie streke byeengebring. Vier van die deelnemers is aan AfriForum se Paarl-tak verbonde, een van Worcester en een van Hopefield aan die Weskus.
“Die kursus het die deelnemers toegerus met die nodige kennis, vaardighede en praktiese riglyne om as VOLK- skietinstrukteurs op te tree. Hulle kan nou binne die raamwerk van die wet as gekwalifiseerde baanoffisiere optree en skietopleiding veilig aan hul onderskeie buurtwagte bied,” sê Crous.
Volgens Crous is die opleiding daarop gemik om gemeenskappe van binne af te versterk. “Wanneer mense bereid is om tyd af te staan om nuwe vaardighede aan te leer en dit weer met ander te deel, bou ons sterker, meer selfstandige gemeenskappe. Die entoesiasme en toewyding van hierdie groep was besonders en ek sien uit daarna om die verskil te sien wat hulle in hul onderskeie gemeenskappe gaan maak.”
Raak vandag betrokke by jou naaste AfriForum-tak. Besoek www.wordlid.co.za vir meer inligting.



