Sanral, paaie, roads
|

Verbeter bestuur van Padongelukfonds voordat nuwe befondsing oorweeg word, sê AfriForum

Klankgreep: Louis Boshoff (Afrikaans)
Klankgreep: Louis Boshoff (Engels)

AfriForum waarsku dat dit totaal onsinnig is om ’n nuwe befondsingsmeganisme vir die Padongelukfonds (POF) voor te stel voordat verseker is dat die fonds behoorlik bestuur word. Dit volg op Barbara Creecy, die minister van Vervoer, se opmerkings die afgelope week dat haar departement ’n nuwe bydraeskema vir die POF oorweeg. Dié skema sal moontlik ’n bykomende jaarlikse heffing op die hernuwing van lisensieskywe behels.

AfriForum wys daarop dat die POF tegnies insolvent is, in November verlede jaar nog ’n agterstand van 400 000 eise gehad het en daar intussen geen aanduiding is dat die agterstand uitgewis is nie. Die Staande Komitee op Openbare Rekeninge (Skoor) is ook nog besig met ’n ondersoek na die POF se bestuur en het onlangs besluit om die sekretaris van die parlement te versoek om ’n kriminele klag teen Collins Letsoalo, die voormalige uitvoerende hoof van die fonds, aanhangig te maak.

Alhoewel die minister korrek is dat elektriese voertuie tans nie deur die brandstofheffing tot die POF bydra nie, sê AfriForum dat dit slegs ’n klein verlies aan inkomste verteenwoordig. Die organisasie voer aan dat die werklike finansiële skade voortspruit uit jare se swak regering en wanbestuur. Volgens Louis Boshoff, AfriForum-woordvoerder, is dit vreemd dat die minister na elektriese voertuie as ’n oorsaak van verminderde inkomste wys, maar nie elektriese voertuie uitsonder vir die voorgestelde nuwe heffing op lisensieskyfhernuwings nie. “Dit wil voorkom asof hierdie voorstel eienaars van brandstofaangedrewe voertuie effektief twee keer sal laat betaal. Hulle dra reeds deur die brandstofheffing by en sal dan moontlik ekstra moet opdok wanneer hulle hul lisensieskywe hernu. Daar moet nie van Suid-Afrikaners verwag word om meer te betaal as gevolg van voortdurende mislukkings in die bestuur van die POF nie.”

AfriForum onderneem om verwikkelinge te moniteer en deel te neem aan enige toekomstige konsultasies oor die finansiering van die POF. “Die regering moet eers wys dat hy openbare fondse doeltreffend en verantwoordelik kan bestuur voordat motoriste gevra word om meer by te dra. Dit is tyd om op te hou om bykomende geld in stelsels te stort waar hulpbronne steeds deur wanbestuur en swak toesig verlore gaan,” sluit Boshoff af.

Soortgelyke plasings

Magsmisbruik