| | |

Nuwe AfriForum-buurtspan in Klerksdorp herstel 119 slaggate in Mei

Die nuutgestigte AfriForum-buurtspan in Klerksdorp het in Mei ongeveer 4,5 ton G5-gruis gebruik om gevaarlike slaggate in die Songloed-woongebied te herstel. Altesaam 119 slaggate is eindelik hierdie tydperk reggemaak in ’n poging om paaie veiliger en meer toeganklik vir inwoners te maak.

AfriForum het ook gereageer op ’n versoek van ’n bejaarde inwoner van Elandsheuwelstraat in Klerksdorp wat hulp benodig het met die opruiming van rommel in die straat. Danksy ’n skenking het die nuwe buurtspan, onder leiding van Romke de Jongh, die omgewing netjieser en veiliger vir inwoners te maak.

Verder is daar tans voortgaande herstelwerk aan slaggate in Knoppiesdoornweg. Hierdie projek word aangepak in samewerking met inwoners van die straat en Harry Nysschen, eienaar van PTR in Doringkruin. Nysschen het toerusting en arbeid beskikbaar gestel om die herstelwerk moontlik te maak. Hierdie samewerking tussen plaaslike ondernemings, inwoners en AfriForum beklemtoon die waarde van gemeenskapsamewerking en die verskil wat gemaak kan word wanneer mense aan praktiese oplossings saamwerk.

AfriForum wil alle inwoners en betrokkenes bedank vir hul ondersteuning en samewerking. Die organisasie moedig die gemeenskap aan om steeds probleme te rapporteer en saam te werk aan praktiese oplossings wat ’n positiewe verskil in Klerksdorp kan maak.

“Hierdie aksies wat in Klerksdorp aangepak word, beklemtoon die feit dat die gemeenskap betrokke moet raak by hul omgewing. Ons is bewus daarvan dat munisipaliteite nie meer hierdie funksies na behore kan of wil verrig nie, daarom moet ons dit self en saam met mekaar doen,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir Mooirivier.

“’n Netjiese woonbuurt is noodsaaklik vir die gemeenskap se gemoed. Ons sal aanhou om te help om dit in Klerksdorp daar te stel, want tans bestaan dit in groot dele nie. Raak asb. betrokke en help ons om mekaar te help,” sê S.W. Scott, AfriForum se takvoorsitter in Klerksdorp.

Om aan te sluit by AfriForum se Klerksdorp-tak, kontak Scott by 082 806 7484.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf