AfriForum se Noord van die berg-tak belangrike rolspeler in Wonderpark-maraton se sukses
AfriForum se Noord van die berg-tak het vir drie weke lank geswoeg en gesweet om die paaie gereed te kry vir die Wonderpark-maraton, ’n Comrades-kwalifiserende maraton, wat op 24 Januarie in Akasia plaasgevind het. Die span het hierdie reuse-taak op 6 Januarie begin om in belang van die atlete se veiligheid op te tree.
Die buurtspan en takbestuur het ingespring om die paaie op die roete, sowel as omliggende paaie, reg te maak. Meer as ’n ton teer is gebruik om 23 slaggate in Rachel de Beer-, Sylvia-, en Dieffenbachiastraat, asook Eerstelaan, te herstel. Verder is die gras in Dieffenbachiastraat, Eerstelaan, Sylviastraat, Tweedelaan, Willem Cruywagenstraat, Joanweg en Waterbokstraat is gesny, asook die oop terreine in Francois- en Makkiestraat in Tileba, wat vir inwoners en motoriste ’n seer oog was en ’n gevaar ingehou het. Nagenoeg 60 bakkievragte vol gras is uiteindelik weggery. Die gevaarlike bosse wat by die brug oor die R80-pad gehang het, is ook verwyder en vier bakkievragte vol vullis is weggery.
Die Noord van die berg-tak het hul harde werk op die dag van die maraton voortgesit toe hulle al 03:00 met voorbereidings begin het. Die slaggate wat hulle nie vooraf kon herstel nie is met veiligheidsborde bedek om die atlete daarvan bewys te maak. Die tak het ook hul hulpbronne gedurende die wedloop beskikbaar gestel waaronder ’n mediese voertuig, twee patrolleerders wat die roete gepatrolleer het en 28 taklede wat as beamptes langs die pad opgetree het. Die tak het ook ’n sogenaamde geesstraat gehad waar hulle atlete gemotiveer het om aan te hou.
“Hierdie projek het die gemeenskap saamgebring en ook gewys dat AfriForum se Noord van die Berg-tak werklik omgee daar is vir almal. Dit wys dat mense wil hul omgewing wil bewaar, onderhou en daarop voortbou,” sê Ruan Janse van Vuuren, voorsitter van AfriForum se Noord van die berg-tak.
Janse van Vuuren bedank Maximum Security, Sacramento Spur, Tawny Creek Spur en die Akasia-atletiekklub vir hul ondersteuning op die dag van die maraton.







