|

Akademia klink ’n glasie op AfriForum se 20 jaar van gemeenskapsbou

Deur Ilze Nieuwoudt

Dekfoto: Kallie Kriel (uitvoerende hoof van AfriForum), Alana Bailey (Hoof van Kultuursake by AfriForum) en Marthinus Visser (besturende direkteur van Akademia)

“AfriForum is een van daardie kritieke instellings tussen die burgery en die regering. Daarom is dit so belangrik dat AfriForum slaag en aanhou doen wat hy doen, want dit gee vir ons [Akademia] die ruimte om ook onbevange te doen wat ons doen, naamlik om ’n universiteit te wees.”

Met dié woorde het Marthinus Visser, besturende direkteur van Akademia, AfriForum vandag tydens ’n intieme vieringsgeleentheid geluk gewens met 20 jaar van gemeenskapsbou.  

Die burgerregteorganisasie vier vanjaar sy 20ste bestaansjaar nadat dit amptelik op 26 Maart 2006 tot stand gekom het.

Volgens Visser bied AfriForum die afgelope twee dekades al ’n diens wat aan die Afrikaanse gemeenskap die ruimte gee om waarlik vry, veilig en voorspoedig te leef in Suid-Afrika. “Ons weet julle werk het baie uitdagings en dat julle baie druk beleef, maar weet net ons ondersteun julle,” het Visser oor ’n glasie vonkelwyn aan Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, gesê.

Visser het tydens sy gelukwensing onder meer gewys op die waarde van ’n burgerregteorganisasie en die leemte wat ander lande in veral Europa in dié verband ondervind. Tydens ’n onlangse besoek aan Europa het Visser opnuut tot die besef gekom van die belang van instellings tussen die staat en die burgery. “Die skrikwekkende ding van Europa is dat daar nie sulke instellings is nie en dat Europa afstuur op ’n moeilike demografiese situasie. Hulle moet boonop die situasie tegemoet loop sonder instelling.”

Hy meen dat talle Europeërs hul nou, te midde van die afwesigheid van soortgelyke organisasies in Europa, na die Solidariteit Beweging wend om leiding te bied.

Visser het sy gelukwensing aan AfriForum kort en kragtig afgesluit met ’n heildronk op die organisasie se eerste 20 jaar én ’n geseënde volgende 20 jaar.

Visser (regs) oorhandig ’n sertifikaat van gelukwensing aan Kriel.
Personeel van AfriForum en Akademia klink ’n glasie op AfriForum se 20ste bestaansjaar.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf, Ons is Afrikaners