Onderrig, education, school, skool
| | |

AfriForum waarsku Tshwane-metro oor sny van skole se krag

Klankgreep: Alana Bailey (Afrikaans)
Klankgreep: Alana Bailey (Engels)

AfriForum se regsverteenwoordiger het die Tshwane Metropolitaanse Munisipaliteit met ’n prokureursbrief gewaarsku dat ’n saak van minagting van die hof daarteen aanhangig gemaak sal word indien dit voortgaan om skole se kragtoevoer af te sny.

Die hofbevel wat ter sprake is, is op 5 Mei 2026 gelewer toe ’n dringende aansoek van AfriForum en Laerskool Wierdapark teen dié munisipaliteit geslaag het. Dit bepaal dat die munisipaliteit nie verder krag van enige skole weens die wanbetaling van eiendomsbelasting mag afsny nie. Die saak het gevolg nadat verskeie skole in die metropolitaanse gebied letterlik in die duister gelaat is, hoewel hulle elektrisiteitsrekeninge ten volle betaal is. Hulle eiendomsbelasting, waarvoor die provinsiale owerhede verantwoordelik is, is egter agterstallig. Die Tshwane-metro was dus besig om die onskuldige partye, naamlik skole en weerlose leerders, te straf vir wanadministrasie waaraan hulle geen aandeel het nie.

Ten spyte van die hofbevel, het dit onder AfriForum se aandag gekom dat die kragtoevoer van ’n skool Maandag weer oor dieselfde rede afgesny is. Dit is later die dag herstel, maar die leerders wat met eksamens besig was, was toe reeds ure lank verontrief.

Volgens Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake, sal AfriForum nie skroom om met ’n saak van minagting voort te gaan indien verdere insidente van dié aard voorkom nie. Sy moedig ook die beheerliggame van skole wat moontlik geraak mag word aan om dadelik met AfriForum kontak te maak sodat die onverkwiklike situasie so spoedig as moontlik opgelos kan word.

Skole wat reeds deur sodanige kragonderbrekings benadeel is, word ook herinner dat hulle volgens die hofbevel skadevergoeding vir hulle uitgawes tydens die tyd sonder kragtoevoer kan eis. Die beheerliggame word versoek om AfriForum op hoogte van die vordering daarmee te hou. “Ons wil toesien dat die onskuldige slagoffers van hierdie stryd tussen die provinsie en die metro na behore vir hulle verliese vergoed word. As enige aspek van die hofbevel verontagsaam word, is AfriForum gereed om weer die skole by te staan,” sluit Bailey af.

Soortgelyke plasings

Ons is Afrikaners