| | |

JB Marks-munisipaliteit verhinder openbare deelname aan GOP-vergadering

Die AfriForum-tak in Potchefstroom doen ’n beroep op die JB Marks Plaaslike Munisipaliteit om die komende Geïntegreerde Ontwikkelingsplan (GOP) -verteenwoordigende forumvergadering in Potchefstroom te hou eerder as 47 km verder in Parys. Die organisasie meen dat regverdige en toeganklike openbare deelname gehinder sal word indien die munisipaliteit die vergadering buite sy munisipale grense aanbied terwyl brandstofpryse boonop hoog is. 

Die tak het in ’n skrywe aan die uitvoerende burgemeester, raadslid Gaba Ka Qhele, gesê dat dit onaanvaarbaar is om hierdie belangrike vergadering op 18 Mei by Stonehenge River Lodge te hou. Dit sal gemeenskapslede daarvan weerhou om deel te neem aan ’n proses wat hulle welstand raak en juis openbare deelname vereis. 

Volgens Douglas Bourn, voorsitter van AfriForum se Potchefstroom-tak, blyk dit dat die munisipaliteit hoop om openbare deelname op hierdie wyse te beperk of selfs te verhoed. “Dit is ’n skending van die gemeenskap se reg tot openbare deelname. 

Die organisasie het die munisipaliteit versoek om die vergadering na ’n meer toeganklike lokaal in Potchefstroom te skuif of alternatiewe reëlings te tref om betekenisvolle deelname te bewerkstellig, soos bykomende plaaslike vergaderings. 

“Die munisipaliteit se setel is in Potchefstroom. Daar is geen rede vir die vergadering om binne ’n ander munisipaliteit se grense gehou te word nie,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier. 

Pretorius voeg by dat daar ’n wetlike verpligting op die munisipaliteit rus om werklike en toeganklike openbare deelname te fasiliteer en dat hierdie besluit daardie verpligting ondermyn. 

Volgens die Wet op Plaaslike Regering: Munisipale Stelsels 32 van 2000, moet ’n munisipaliteit ’n kultuur van deelnemende regering bevorder en moet deelname toeganklik en inklusief wees. Voorts bepaal artikel 195 van die Grondwet dat die publiek aangemoedig moet word om aan beleidsprosesse deel te neem. AfriForum meen dat die integriteit van die GOP-proses in gedrang sal wees indien die huidige reëlings voortgaan en dat dit moontlik kan lei tot prosedurele onregverdigheid. 

“Indien die JB Marks-munisipaliteit versuim om redelike toegang tot hierdie proses te verseker sal AfriForum verdere stappe doen,” sluit Pretorius af. 

Maak ’n daadwerklike verskil in jou gemeenskap en sluit vandag nog by AfriForum se Potchefstroom-tak en -buurtwag aan. Kontak vir Douglas Bourn by 083 232 1020 om by die tak aan te sluit en vir Cornelia Blignaut by 073 390 4133 om by die buurtwag aan te sluit.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf