| |

Beplanning en voorbereiding beste teenvoeter vir vloede

Swaar winterreën het reeds in groot dele van Suid-Afrika uitgesak en die risiko van vloede is aan die toeneem. ’n Vloed kan baie gevaarlik wees, maar risiko’s kan beperk word. AfriForum het raad!

“Vloede is die algemeenste natuurramp in Suid-Afrika en kan vinnig ontwikkel en selfs sonder waarskuwing toeslaan. Daarom is voorbereiding nie ’n luuksheid nie, maar ’n noodsaaklikheid,” sê Tarien Cooks, rampbestuurspesialis by AfriForum.

Wat is ’n vloed?

  • ’n Vloed is die tydelike oorloop van water na land wat normaalweg droog is.
  • Reën, kusstorms, stormgolwe en die oorloop van damme en riviere kan tot vloede lei.
  • ’n Vloed kan stadig of vinnig ontwikkel. Kitsvloede kan sonder waarskuwing ontwikkel.
  • Vloede kan aanleiding gee tot kragonderbrekings, vervoer ontwrig, geboue beskadig en grondverskuiwings veroorsaak.

“Beplanning en voorbereiding kan baie van die risiko’s wat met vloede gepaard gaan, beperk. Bly op hoogte van die weerdiens se waarskuwings, leer en oefen ontruimingsroetes en skuilplekke. Maak ook voorraad bymekaar ingeval jy dadelik moet ontruim of van basiese dienste afgesny word. Hou ook elke individu in jou huishouding se spesifieke behoeftes, insluitende medikasie, in gedagte,” sê Cooks.

Stappe wat gedoen kan word om jou eiendom te beskerm, sluit in om waardevolle items na hoër vlakke te verskuif en belangrike dokumente in waterdigte houers te stoor. Onthou ook om ekstra batterye en laaiers vir noodsaaklike toestelle insluitend selfone, radio’s en dies meer byderhand te hou.

Cooks benadruk die publiek om gehoor te gee aan vloedwaarskuwings en om dadelik te ontruim indien die publiek aangesê word om dit te doen. Die impak van die vloed, die beskikbaarheid van tyd en jou en jou geliefdes se ligging sal bepaal waarheen ontruim moet word.

“Onthou die veilige plek of plekke wat jy vooraf geïdentifiseer het wanneer dit tyd word om te ontruim en bly daar as jy reeds daar is. Indien jy nie by die veilige punt kan uitkom nie en jy buite is, beweeg minstens na ’n hoër gebied en bly sover moontlik weg van brûe en bewegende water,” verduidelik sy.

Sy waarsku ook motoriste om nie deur vloedwater te probeer ry nie. “Dit is roekeloos en lewensgevaarlik. Dit verg net ’n klein hoeveelheid water om jou voertuig mee te sleur en nog minder om jou van jou voete te slaan as jy sou besluit om deur lopende water te loop. Kies eerder ’n ander roete. As jou voertuig wel in vinnig bewegende water vasgevang word, bly binne jou voertuig of klim op die dak as water in die voertuig begin instroom.”

Cooks hou vol dat risiko’s nie net beperk is tot tydens vloede nie, maar dat die tyd daarna ook ernstige risiko’s inhou. Sy gee die volgende wenke om beserings en moontlike lewensverliese ná afloop van vloede te beperk:

  • Moenie jou voertuig ná ’n vloed bestuur nie, behalwe in die geval van ’n noodgeval.
  • Wees bewus dat slange en ander diere dalk in jou huis kan wees ná ’n vloed daardeur is. Trek dus dik handskoene en stewels aan voor jy jou huis begin skoonmaak.
  • Moenie deur vloedwater beweeg nie, aangesien die water gevaarlike rommel kan bevat en besmet kan wees. Kragdrade kan ook in die water geval het en ’n lading deur die water stuur.
  • Wees bewus van die risiko’s van elektriese skok. Moenie nat elektriese toerusting gebruik nie en skakel liefs die krag af wanneer dit veilig is om dit te doen voor opruiming aangepak word.

“AfriForum doen ’n beroep op gemeenskappe om proaktief op te tree en hulself te bemagtig, want die staat faal toenemend in sy basiese plig om burgers te beskerm,” sluit Cooks af.

AfriForum-lede kan dié burgerregteorganisasie se volledige vloedgids hier aflaai.

Soortgelyke plasings

Veiligheid