| | |

AfriForum leer Laerskool Vredekloof om wapenrusting teen boeliegedrag aan te trek

AfriForum se teenboeliespan het vandeesweek besoek afgelê by Laerskool Vredekloof om leerders en personeel te motiveer om deur hul daaglikse optrede te help om boeliegedrag te verander. Dié span meen dat verandering nie kan plaasvind wanneer daar passief toegekyk word nie, maar eerder aktief opgetree word.

Die aanbieding het beklemtoon dat werklike verandering nie begin by groot veldtogte nie, maar by die klein, alledaagse besluite wat leerders neem soos om iemand in te sluit, om nie saam te lag nie, om op te staan of om hulp te kry. Leerders is toegerus om te besef dat hulle nie magteloos is nie, maar ’n direkte invloed het op die omgewing waarin hulle hulself bevind.

“Wanneer kinders begin besef dat hul optrede die verloop van ’n situasie kan verander, sien ons ’n skuif van passiwiteit na verantwoordelikheid,” sê Mari-Louise Erasmus, aanbieder van AfriForum se teenboelieprogram. “Dit is hier waar volhoubare verandering begin.”

As deel van die sessie is die beeld van die volle wapenrusting van God gebruik om hierdie gedrag prakties te anker. Die rol van die toeskouer is ook sterk uitgelig. Leerders het geleer dat stilbly dikwels boeliegedrag versterk, terwyl selfs een persoon wat anders kies, ’n kettingreaksie van positiewe gedrag kan begin.

Lenatha Scheepers, berader by Laerskool Vredekloof, was opgewonde oor die entoesiasme waarmee die leerders aan die sessie deelgeneem het. Sy sê dat die uitdaging waarmee leerders daagliks met nuwe vorme van boeliegedrag gekonfronteer word, ʼn massiewe impak op hulle welstand het en dat aanbiedinge soos hierdie ʼn noodsaaklikheid is vir alle skole. 

AfriForum se besoek vorm deel van ’n breër inisiatief om skole te ondersteun in die vestiging van omgewings waar elke leerder verstaan dat hul keuses gewig dra en hul optrede ’n werklike verskil kan maak om boeliegedrag in skole te bekamp.

Vir meer inligting oor AfriForum se teenboelieveldtog en aanbiedinge by skole stuur gerus ʼn e-pos aan onderwys@afriforum.co.za

Soortgelyke plasings

Ons is Afrikaners