AfriForum se Uitenhage-tak skenk unieke rolbalmatte aan plaaslike rolbalklub
AfriForum se Uitenhage-tak het op 14 Mei 12 nuwe rolbalmatte aan die plaaslike rolbalklub geskenk as deel van die tak se voortgesette betrokkenheid by gemeenskapsontwikkeling en ondersteuning van plaaslike sportinisiatiewe.
Die matte is met opset ligkleurig om te verhoed dat dit in direkte sonlig warm raak en die grasoppervlak brand. Die matte se ontwerp verminder ook windweerstand om te voorkom dat dit opwaai en wedstryde of oefeninge onderbreek. Dit maak hierdie matjies besonder geskik vir plaaslike speeltoestande.
Hierdie skenking is gemaak met die doel om die klub se fasiliteite te verbeter en spelers van alle ouderdomme aan te moedig om aktief aan die sport deel te neem. Rolbal vorm reeds vir jare deel van die gemeenskap se sosiale en sportiewe hartklop en hierdie bydrae sal help om die klub se daaglikse bedrywighede verder te ondersteun.
“Gemeenskapsorganisasies en sportklubs speel ’n belangrike rol om mense bymekaar te bring. Deur hierdie skenking wil AfriForum se Uitenhage-tak ’n positiewe bydrae maak en help om plaaslike sport te bevorder,” sê Louis van der Vyver, AfriForum se distrikskoördineerder in die Oos-Kaap.
Duane Nel, president van die Uitenhage-rolbalklub, het sy dankbaarheid vir die ondersteuning uitgespreek en beklemtoon dat die nuwe matjies ’n groot aanwins vir die klub en sy lede sal wees.
Raak vandag nog by AfriForum se Uitenhage-tak en/of -buurtwag betrokke en maak sodoende ’n tasbare verskil in jou gemeenskap. Kontak Minette van der Vyver by 083 6855 815 of besoek www.afriforumbuurtwag.co.za vir meer inligting of om aan te sluit.



