| | |

AfriForum bring appèlaansoek om Rand Water-inligting te bekom

AfriForum het ’n aansoek om verlof tot appèl ingedien teen die uitspraak in die organisasie se interlokutêre aansoek teen Rand Water. AfriForum het in Desember 2024 die interlokutêre aansoek gebring om inligting van Rand Water te bekom ná die watervoorsiener die waterdruk na sewe munisipaliteite, waar onder die Govan Mbeki Plaaslike Munisipaliteit en die Victor Khanye Plaaslike Munisipaliteit, verlaag het. Die Pretoriase Hooggeregshof het egter die organisasie se interlokutêre aansoek van die hand gewys aangesien Rand Water besluit het om nie voort te gaan met drukverlaging nie.

AfriForum het die hof reeds in 2024 genader ná Rand Water die waterdruk na die Govan Mbeki- en Victor Khanye-munisipaliteite verlaag het weens wanbetaling. Hoewel die hof vereis het dat Rand Water ’n rekord moet indien van vergaderings waartydens hierdie belangrike besluite geneem is kon die watervoorsiener nie daarin slaag om ’n voldoende rekord in te dien nie.

Dít het AfriForum genoop om ’n interlokutêre aansoek teen Rand Water te bring om volledige inligting te verkry vir die doeleindes van die hofsaak. Rand Water het egter volgehou dat hulle nie die volledige rekord hoef te voorsien nie aangesien hulle teen daardie tyd reeds die besluit om waterdruk te verlaag teruggetrek het. AfriForum is egter van mening dat ’n staatsorgaan deursigtig moet wees en die volledige rekord van die oorspronklike besluit om water of waterdruk te verminder, asook die rekords van die besluit om dit terug te trek beskikbaar moet stel.

Hoewel die regter die interlokutêre aansoek van die hand gewys het aangesien Rand Water nie voortgegaan het met drukverlagings nie, is AfriForum egter van mening dat dié besluit heroorweeg moet word. Volgens die regter het dit nie saak gemaak dat Rand Water nie die dokumentasie verskaf het nie want hulle het nie voortgegaan met hul aanvanklike besluit om waterdruk te verlaag nie, dus hoef die aansoek nie voort te gaan nie. Die organisasie meen egter dat die regter hier nie moes oordeel vel oor die besluit om die waterdruk te verminder nie, maar eerder om Rand Water te verplig om die inligting te verskaf.

Volgens AfriForum kan hierdie uitspraak ’n gevaarlike presedent skep waar staatsorgane besluite maak wat gemeenskappe raak en dan net daardie besluit weer terugtrek sodra die saak in die hof draai. Dit skep geen ruimte vir landsburgers om daadwerklike antwoorde te kry oor prosesse waartydens daar besluite geneem word wat hulle kan benadeel nie.

AfriForum het ook in Maart vanjaar ’n interne appèlaansoek van stapel gestuur teen die Victor Khanye-munisipaliteit ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (PAIA). Hierdie aansoek handel oor die aspekte en voorwaardes van die munisipaliteit se ooreenkoms met Rand Water. Die munisipaliteit het egter nog geen terugvoer verskaf nie. Die inligting wat in hierdie PAIA-aansoek versoek word, asook die inligting wat Rand Water weerhou is noodsaaklik om te kan voortgaan met die saak en te verseker dat inwoners nie sonder water sit weens interne gevegte tussen munisipaliteite en ander staatsorgane nie.

Die Govan Mbeki-munisipaliteit het op 8 Mei gekommunikeer dat hulle wel inligting gaan verskaf oor hul ooreenkoms met Rand Water en die voorwaardes wat daarmee verband hou, maar geen inligting is al ontvang nie.

“Dit is totaal onaanvaarbaar dat die munisipaliteite en die waterverskaffer net nie die inligting wil verskaf nie of sloer om dit te doen. Hierdie entiteite is veronderstel om oop en deursigtig te wees en om inwoners se belange te dien. Dit blyk egter dat hulle net sal stilbly of sloer en dan doen wat hulle wil. Intussen sit inwoners in Bethal steeds sonder water,” sê Hennie Bekker, distrikskoördineerder vir AfriForum in die Hoëveld.

Besoek www.wordlid.co.za om by jou naaste AfriForum-tak aan te sluit en ’n daadwerklike verskil in jou gemeenskap te maak.

Word ’n lid

Maak ’n donasie

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf