AfriForum bekommerd oor GDO se verskuiwing van blaam, hersiening van desentralisasie
AfriForum is bekommerd dat die Gautengse LUR vir Onderwys, Lebogang Maile, probeer om die Gautengse departement van Onderwys (GDO) se aandeel in skole se munisipale skuld te verdoesel én van voorneme is om die desentralisasie van skole se finansiële bestuur te heroorweeg. Dit volg nadat Maile gister (17 Mei), onder meer met verwysing na AfriForum en Laerskool Wierdapark se suksesvolle hofsaak teen die Tshwane Metropolitaanse Munisipaliteit se afsny van skole se kragtoevoer, breedvoerig oor die fiskale uitdagings van dié departement uitgewy het.
Volgens Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake, is dit kommerwekkend dat die LUR die departement se eie aandeel aan die huidige krisisse onderspeel. “Hy noem onder meer dat die probleme met onderhoud en infrastruktuur die gevolg van migrasie in die provinsie is. Die jarelange onderspandering van die departement se begrotings vir infrastruktuurontwikkeling en -onderhoud word byvoorbeeld nie genoem nie.”
Alhoewel Maile tereg daarop wys dat die R583,9 miljoen wat al langer as 60 dae aan Gautengse munisipaliteite verskuldig is, die toekoms van onderwys in die provinsie bedreig, voeg Bailey by dat ’n groot deel hiervan die gevolg van die GDO se eie wanadministrasie is.
“Eiendomsbelasting moet deur die provinsie aan die munisipale owerhede betaal word, nie deur die skole nie. Verder is die departement agterstallig met die betaling van die toewysings per leerder aan skole. Uitstaande toewysings van 2025 is eers in Januarie vanjaar aan die skole oorbetaal en bedrae vir 2026 wat teen 15 Mei betaalbaar was, is nog uitstaande.”
Bailey noem verder dat die GDO se voorneme om die desentralisasie van skole in heroorweging te neem, gevaarligte laat flits. “Dit kom voor asof die krisisse waarvoor die departement grotendeels self aanspreeklik is, nou voor die deur van die huidige afwenteling van finansiële magte aan skole se beheerliggame toegeskryf word. As daar skole is wat nie rekeninge betyds betaal nie, moet die individuele beheerliggame aanspreeklik gehou word, en nie dié van alle skole nie. Vele beheerliggame se betalings is op datum, maar daar is probleme met die GDO se vereffening van verskuldigde bedrae. Dit was die geval wat die onlangse hofsaak van AfriForum en Laerskool Wierdapark teen die metro in Tshwane aanbetref.
“Skole wat hul finansiële sake verantwoordelik bestuur, moet méér outonomie kry, nie minder nie. Die GDO mag nie toegelaat word om die feite oor hul eie wanadministrasie só te verdraai, dat dit ’n verskoning word om hul hande op suksesvolle skole se begrotings te lê nie,” sê sy.



