NUUSKOMMENTAAR: Loop bietjie uit tussen die brandende bome en waardeer weer die skoonheid van die bos
Deur Barend Uys
Wanneer mens daagliks die nuus volg, kan mens maklik oorweldig word deur die negatiwiteit en voel asof mens sigself binne ’n brandende bos bevind. Dit is bloot menslik om soms só te voel binne ons uiterse uitdagende omstandighede.
Op ’n onlangse potgooi word verduidelik dat die ineenstorting van ’n land gewoonlik nie ’n dramatiese inploffing is nie, maar ’n stadige, uitmergelende proses waartydens mense nie eensklaps weerstand bied nie maar eerder aanpas. Kragonderbrekings, byvoorbeeld, word genormaliseer (en oorkom) deur privaatoplossings – mense pas aan by ’n stelsel wat stelselmatig verval. Dié toedrag van sake is aan die meeste van ons goed bekend.
’n Kommentator op X reageer egter daarop met die volgende stelling: “Dit is belangrik om te sê dat mens ’n baie goeie lewe in ’n vervalle samelewing kan lei. Waarskynlik ’n baie vryer lewe as enige plek in Europa op die oomblik.”
Hierdie opmerking laat mens vir ’n oomblik tot stilstand kom. Dit gee aan mens die geleentheid om vir ’n oomblik tussen die brandende bome in mens se onmiddellike omgewing uit te stap en weer die skoonheid van die res van die bos te bewonder.
Daar is geweldig baie om te waardeer – en voor te stry, in hierdie mooi land waarin ons bevoorreg genoeg is om onsself te bevind. En net soos die kommentator opmerk, is die vryheid wat ons geniet een van die mooiste en belangrikste dinge om raak te sien en te waardeer.
Dit ís so dat onbetroubare elektrisiteit- en watervoorsiening ’n uitdaging is – maar ons het die vryheid om met sonkragstelsels, watertenks en boorgate self planne te maak. Die versekering van gemeenskapsveiligheid is ’n ander groot uitdaging – en ons het die vryheid om opleiding te ontvang, te organiseer en onsself te bewapen. Ons het die vryheid om by ons huise te skaaf, te sweis en te verf – dit is iets wat ons as vanselfsprekend beskou wat in sommige Westerse lande onwettig is.
Ons verstaan dat dit juis hierdie vryhede is wat dit vir ons moontlik maak om ’n goeie lewe onder uiters uitdagende omstandighede te lei, en daarom organiseer ons in burgerlike organisasies soos AfriForum wat ons in staat stel om hierdie vryhede te verdedig wanneer die staat dit van ons probeer ontneem. Ons moet ook raaksien dat die vryheid (en die wil en vermoë!) wat ons het om hierdie gemeenskapsorganisasies te vestig en uit te bou nie vanselfsprekend is nie. In verskeie lande word hierdie soort gemeenskapstrukture wat ’n regering tot verantwoording roep, nie geduld nie.
Wanneer ons oor vryheid dink, is dit egter ook belangrik om verder as die individu en die gesin te dink – daar is ook die werklikheid van die volk. Om die voortbestaan van ’n volk as kultuurgemeenskap te verseker is groepsvryheid, naas individuele vryheid, ook noodsaaklik. ’n Volk moet ook die ruimte hê om te besluit oor sake wat vir hulle gesamentlik belangrik is, en oor die gesamentlike toekoms wat hulle vir hulself wil verseker. Individuele vryheid is ongelukkig nie ’n waarborg vir groepsvryheid nie, daarvoor moet ook gewerk word, en die verdediging daarvan is net so noodsaaklik. Die ruimte wat noodwendig ontstaan as gevolg van die agteruitgang van die sentrale mag en gesag van die staat skep juis die geleentheid (en noodsaaklikheid) vir volke om groepsvryheid uit te bou. Hierdie geleentheid moet ons ook ten diepste waardeer en aangryp.
’n Baie groot meerderheid van die burgers in die land beskou hulself as Christene. Wat ’n besonderse voorreg is dit nie! Naas medeburgers is die meeste van ons dus ook broers en susters in Christus. Vir die meeste mense, oor kultuurgrense heen, is familiewaardes, en die behoud van taal en kulturele identiteit belangrik. Beter omstandighede vir die vreedsame naasbestaan van verskillende kultuurgemeenskappe sal moeilik elders gevind word – ons hoef maar net te dink aan die tragedies wat afspeel in die Midde Ooste en Oos-Europa om weer ’n gesonde perspektief te verkry.
Ná so ’n kort wandeling in die mooi Suid-Afrikaanse bos, waardeer mens opnuut die skoonheid daarvan en kan ons met nuwe ywer tussen die brandende bome inklim om vure te blus; en ook in geloof, met hoop in ons harte, nuwe bome plant.
Barend Uys is die hoof van Interkulturele verhoudings en samewerking by AfriForum.



