AfriForum se Teenboelieveldtog rus Laerskool Kenmare-leerders toe om boeliegedrag hok te slaan
Suid-Afrikaanse navorsing wys daarop dat boeliegedrag veel meer behels as net fisieke geweld. Vernedering, uitsluiting, geswets en kuberboeliegedrag is tans van die algemeenste vorme van boeliegedrag onder skoolkinders. Daarom het AfriForum se Teenboelieveldtog op Vrydag 7 Augustus 2026 Laerskool Kenmare in Krugersdorp besoek om leerders hier toe te rus om hierdie gedrag te herken en hok te slaan.

Mari-Louise Erasmus, aanbieder van AfriForum se Teenboelieprogram, benadruk dat boeliegedrag nie net op die sportveld of in die skoolgange plaasvind nie. “Dit speel ook af in klaskamers, vriendekringe en aanlyn, waar kinders doelbewus uitgesluit, verneder of geïntimideer word,” verduidelik sy.
Juis daarom fokus AfriForum se Teenboelieveldtog nie net op fisieke boeliegedrag nie, maar ook op die minder sigbare vorme wat dikwels die grootste emosionele skade aanrig.

Volgens ’n studie oor boeliegedrag wat in 2021 verskyn het in die eweknie-geëvalueerde vaktydskrif BMC Research Notes, is kwetsende naamnoemery (oftewel geswets) die algemeenste vorm van boeliegedrag waaraan Suid-Afrikaanse laerskoolkinders blootgestel word. Die studie, wat 7 067 kinders uit 61 laerskole in al nege provinsies ingesluit het, het ook hoë vlakke van sosiale uitsluiting en fisieke intimidasie aangeteken.
Volgens Laurentius Conradie, Departementshoof van Opvoedkundige Leiding by Laerskool Kenmare, is waardes die fondament van ’n veilige skoolkultuur. “Wanneer ’n skool doelbewus waardes soos respek, omgee, verantwoordelikheid, eerlikheid en verdraagsaamheid bevorder, skep dit ’n omgewing waar leerders leer om mekaar met waardigheid te behandel, verskille te respekteer en konflik positief op te los. Wanneer hierdie waardes daagliks uitgeleef en versterk word, word empatie en verantwoordelikheid gekweek, en word ’n kultuur bevorder waarin boeliegedrag nie geduld word nie,” verduidelik hy.
Erasmus meen karakter word veral sigbaar in hoe ons ander behandel: “Soms begin ’n verskil met iets eenvoudig soos om iemand in te sluit, op te staan vir ’n maat of te weier om saam te lag wanneer iemand anders seergemaak word. Wanneer leerders kies vir respek, empatie en moed, help hulle om ’n kultuur te skep waarin boeliegedrag minder ruimte kry. Kinders ontdek dikwels eers hul eie invloed wanneer hulle besluit om nie saam te lag of weg te kyk nie.”
AfriForum se Teenboelieveldtog rus skole, ouers en leerders toe met praktiese kennis om boelie- en kuberboeliegedrag te herken, vroeg te takel en ’n kultuur van wedersydse respek te vestig. Die program fokus nie net op slagoffers en boelies nie, maar ook op die rol wat mede-leerders, onderwysers en ouers speel om boeliegedrag te voorkom.
Vir meer inligting oor AfriForum se Teenboelieveldtog en aanbiedinge by skole, stuur gerus ’n e-pos aan onderwys@afriforum.co.za.



