| | |

AfriForum pak Mangaung-metro se nuwe vullisverwyderings- en riooltariewe

Klankgreep: Jaco Grobbelaar (Afrikaans)

AfriForum het ’n hersieningsaansoek by die Bloemfonteinse Hooggeregshof ingedien teen die Mangaung Metropolitaanse Munisipaliteit se nuwe vullisverwyderings- en riooltariefstrukture. Die aansoek is daarop gemik om die nuwe tariewe tersyde te stel, aangesien AfriForum van mening is dat die wyse waarop die tariewe bereken en gehef word, ongrondwetlik is en nie aan die toepaslike wetlike vereistes voldoen nie.

Die nuwe  tariewe behels ’n vullisverwyderingstarief wat bereken word op die grootte erf, en ’n riooltarief wat op die waarde van ’n eiendom bereken word.

Volgens AfriForum is hierdie benadering tot tariefbepaling in teenstelling met die Grondwet,  die Wet op Plaaslike Regering: Munisipale Stelsels 32 van 2000, die Wet op Plaaslike Regering: Munisipale Eiendomsbelasting 6 van 2004, die Wet op Munisipale Fiskale Bevoegdhede en Funksies 12 van 2007, en die Mangaung-verordening op Afvalbestuur en -tariefbeleid.

AfriForum eis dat die Mangaung-metro die heffing van die betwiste tariewe onmiddellik staak en ’n wettige, billike en deursigtige metode vind om inwoners vir hierdie dienste te hef. Die organisasie is van mening dat inwoners nie aan tariefstrukture onderwerp behoort te word wat nie behoorlik op wetlike beginsels, die aard van die diens of die koste van dienslewering gegrond is nie.

AfriForum se kommer oor die nuwe tariewe word verder versterk deur die metro se voortdurende onvermoë om volhoubare en doeltreffende vullisverwyderingsdienste aan inwoners te lewer.

“Dit is onaanvaarbaar dat die Mangaung-metro nie eens daarin kan slaag om basiese dienste soos vullisverwydering volhoubaar te lewer nie, maar terselfdertyd nuwe en verhoogde finansiële laste op inwoners wil plaas. AfriForum en talle private kontrakteurs verrig reeds vullisverwyderingsdienste omdat die metro nie daarin slaag om sy verantwoordelikhede na te kom nie. Inwoners is moeg daarvoor om te betaal vir dienste wat hulle nie ontvang nie,” sê Jaco Grobbelaar, AfriForum se streekshoof vir die sentraalstreek.

 “Die vraag ontstaan toenemend of hierdie tariewe werklik gebruik word om dienste te verbeter en of dit bloot net nog ’n manier is om geld in te samel wat uiteindelik op alles behalwe basiese dienslewering spandeer word. Die metro moet ophou om inwoners se beursies as sy persoonlike spaarbussie te gebruik om sy eie bestuurs- en diensleweringsmislukkings te finansier.”

AfriForum beklemtoon dat munisipale tariewe nie bloot as ’n onbeperkte bron van inkomste beskou mag word nie. Tariewe moet binne die raamwerk van die Grondwet en toepaslike wetgewing gehef word, terwyl inwoners se reg op verantwoordbare en doeltreffende munisipale dienslewering gerespekteer moet word.

Die organisasie sal die hofproses voortsit en die Mangaung-metro aanspreeklik hou oor die wettigheid van die betwiste tariewe. AfriForum sal nie toelaat dat inwoners gedwing word om toenemend meer te betaal vir dienste wat die munisipaliteit nie behoorlik lewer nie.

Word n lid

Maak n donasie

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf