|

Fikile Mbalula moet nou óók gevolge dra ná valse bewerings van verkragting teen Bergview-hoof

Klankgreep: Adv. Gerrie Nel (Afrikaans)
Klankgreep: Kallie Kriel (Afrikaans)

Die ANC se sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, sal nou ook strafregtelik vervolg word ná hy Jaco Pieterse, voormalige hoof van Bergview College, as ’n kinderverkragter uitgekryt het. Hierdie is die tweede saak waarin AfriForum se privaatvervolgingseenheid daarin kon slaag om die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) te oortuig om ’n politikus vir crimen injuria te vervolg. Die NVG het in Augustus bevestig dat die EFF-leier, Julius Malema, ook in hierdie verband vervolg sal word. Pieterse het, met behulp van die privaatvervolgingseenheid, strafregtelike klagtes teen Mbalula, Malema en die Oos-Kaapse LUR vir Onderwys, Fundile Gade, gelê.

Mbalula het op 1 April 2025 die media toegespreek ná ’n ANC-vergadering. Tydens hierdie vergadering het hy na die verkragting van ’n Bergview-leerder verwys en onder meer gesê dat dit skandelik is dat organisasies soos AfriForum betrokke is en verdagtes beskerm eerder as om vir geregtigheid te staan. Teen daardie tyd was dit bekend dat AfriForum se privaatvervolgingseenheid Pieterse verteenwoordig. Mbalula het Pieterse voorts as ’n “dier” beskryf en gesê dat AfriForum ’n dier beskerm.

Die saak behels ’n kind wie se ma beweer het dat sy in Oktober 2024 by Bergview College in Matatiele in die Oos-Kaap verkrag is. Pieterse en die skool se opsigter, wat ook deur die privaatvervolgingseenheid verteenwoordig word, was toe die teikens van ’n reusagtige sosialemediaveldtog wat in November 2024 begin het. Die NVG het in daardie stadium aangedui dat die saak, weens ’n gebrek aan bewyse, nie vervolg sou word nie. In Mei 2025 het die NVG weereens bevestig dat niemand in verband met die beweerde verkragting vervolg sou word nie aangesien daar, volgens ’n NVG-woordvoerder, geen bewyse van verkragting of seksuele aanranding was ná die minderjarige dogter deur mediese praktisyns ondersoek is en forensiese maatskaplike werkers onderhoude met haar gevoer het nie.

In die vertoë wat op 13 Augustus 2026 aan die NVG gerig is, het adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, verwys na Mbalula en die ANC se openbare verweer dat sy opmerkings oor geslagsgebaseerde geweld in die algemeen gehandel het, en nie spesifiek na Pieterse verwys het nie. Volgens Nel gaan dit nie daaroor of Pieterse uitdruklik by die naam genoem is nie, maar eerder of Mbalula se woorde in die konteks van die omstandighede daartoe gelei het dat die publiek dit verstaan het as ’n verwysing na Pieterse.

Nel het voorts aangevoer dat Pieterse se gevoel dat sy waardigheid aangetas is, nie onderskat kan word nie. “Die omstandighede is veral verdoemend aangesien Pieterse in die openbaar verbind is met die beweerde verkragting van ’n sewe-jarige kind, ten spyte daarvan dat hy nooit eens ’n verdagte was nie en die daaropvolgende bevestiging deur die NVG dat daar geen bewyse was dat die kind verkrag is nie.”

Volgens Barry Bateman, woordvoerder van die privaatvervolgingseenheid, het Mbalula in die verlede, nes Malema, gereeld die howe genader wanneer hy voel dat hy na bewering valslik beskuldig word daarvan dat hy ’n misdaad gepleeg het. “Elke keer wat Fikile Mbalula in die openbaar beskuldig word daarvan dat hy betrokke was by die moord op Wandile Bozwana, het hy hom tot die howe gewend om ’n interdik teen sy beskuldigers te bekom. In ’n beslissing verlede jaar, het Mbalula aangevoer dat om die heeltyd valslik van ’n misdaad beskuldig te word deurlopende skade aan sy reputasie en waardigheid aanrig, en lei tot angs en vernedering.”

“Mbalula verstaan dus die skade wat aangerig word deur valse beskuldigings soos hierdie. Hy moet besef dat om ’n onderwyser in die openbaar as ’n kinderverkragter en dier uit te kryt sonder ’n greintjie bewyse om die bewering te staaf, ’n onderwyser se fundamentele reg tot waardigheid aantas. AfriForum se privaatvervolgingseenheid glo dat ’n hof sal saamstem, hom dienooreenkoms sal veroordeel en só ’n duidelike boodskap sal stuur dat daar gevolge is vir politici wat hul openbare platforms gebruik om leuens te verkondig sonder enige agting vir die gevolge daarvan,” sê Bateman.

Word n lid

Maak n donasie

Soortgelyke plasings

Magsmisbruik